18 bejaardes sterf ná tehuis brand
2010-08-02 05:45
Johannesburg - Agtien mense is dood en talle ander het brandwonde opgedoen ná 'n brand Sondagaand by die Pieter Wessels-tehuis vir bejaardes in Nigel uitgebreek het, het paramedici gesê.
Die brand het omstreeks 21:00 Sondagaand uitgebreek. Die oorsaak van die brand is onbekend en die polisie ondersoek die saak.
"84 mense is gered en 'n man het 40% brandwonde opgedoen en is na die Charlotte Maxeke-hospitaal geneem vir behandeling,"
het Chris Botha, 'n woordvoerder van Netcare, gesê.
Twee ander mense is ernstig beseer en is na hospitale in die gebied geneem vir verdere behandeling.
Ná die brand geblus is, het die brandweermanne die gebou deursoek en vasgestel dat 17 bejaarde inwoners in die brand dood is.
Nóg 'n persoon het vermoedelik aan 'n hartaanval beswyk ná 'n groep mense na 'n kerk geneem is.
Volg Nuus24 op
Twitter
- SAPA