2 padvalke geskors oor vals rybewys
2011-12-14 10:30
Nelspruit – Twee verkeersbeamptes van KwaMhlanga, Mpumalanga, wat onlangs aan bedrog skuldig bevind is omdat hulle betrokke was by die uitreiking van ’n vals rybewys, is geskors.
Moebeng Thubane en haar toesighouer, Master Kabini, is drie weke gelede elk met R20 000 beboet nadat hulle aan bedrog skuldig bevind is.
Hulle is geskors nadat Beeld vroeër berig het hoe die twee reeds in 2008 betrap is toe Kabini ’n vals rybewys aan Thubane uitgereik het.
Thubane moes in 2008 ’n kursus by die Limpopo-verkeerskollege bywoon, maar kon net vir die kursus kwalifiseer as sy ’n swaarvoertuigrybewys gehad het.
In Augustus 2008 het Kabini toe ’n rybewys aan Thubane uitgereik sonder dat sy getoets is.
Beeld het ook berig dat Thubane se rybewys reeds in Julie verlede jaar op die eNaTIS-stelsel gekanselleer is.
Sy het die afgelope 18 maande sonder ’n wettige rybewys as verkeersbeampte gewerk.
Sy het Maandag nog met haar verkeersmotor, met Kabini en ’n senior amptenaar as passasiers, Nelspruit besoek.
Vusi Shongwe, Mpumalanga se LUR vir veiligheid en sekuriteit, het gister gesê die skorsing moet as waarskuwing aan ander korrupte verkeersbeamptes in die provinsie dien.
“Daar sal nou tugstappe gedoen word om te bepaal of hulle geskik is om as verkeersbeamptes in die provinsie te dien,” het Shongwe gesê.
“Hul gedrag plaas ’n demper op die regering se pogings om die paaie van die provinsie te beveilig.”
Hy het ook gesê die twee korrupte verkeersbeamptes se bestuurder, Amos Masilela, moet skriftelik verduidelik waarom hy nie die uitslag van die bedrogsaak onder die departement se aandag gebring het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld