2 meisietjies vermoor; ma verdwyn
2010-07-31 06:32
Gerhard Pretorius en Sapa
Beeld
Johannesburg - Die twee dogtertjies van ’n oud-kabinetsminister se neef is vermoor en hul ma het uit die moordhuis in Theresapark, Pretoria, verdwyn.
Die polisie bekyk die moontlikheid dat die weduwee van die neef van Sydney Mufamadi, destyds minister van provinsiale en plaaslike regering, in die aanval aangerand en ontvoer is, het ’n polisiebron gesê.
Konst. William Mahlaole, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die moontlikheid word ook ondersoek dat die vrou die kinders self vermoor en gevlug het.
“Dit gaan my verstand te bowe dat iemand dit oor sy hart kan kry om kinders te vermoor,” het Mufamadi gisteraand gesê.
Hy wou hom nie uitlaat oor wat moontlik kon gebeur het nie. “Al wat ek kan hoop is dat sy (die kinders se ma) nog leef.”
Mufamadi het gesê die familie wil nog nie die betrokkenes se name bekend maak nie.
Die polisie het gister met ’n soektog na die vrou begin.
Haar man is einde Januarie in ’n motorongeluk dood.
Volgens die polisiebron was daar tekens van ’n struweling in die huis en ook tekens dat die vrou aangerand is.
Die ouer meisietjie (4) is volgens die polisie moontlik verdrink en haar sussie van agt maande is vermoedelik met ’n hoed versmoor.
Die kinders se ma het Donderdag laas met familielede gepraat.
Daar was geen teken van gedwonge toegang nie.
Die kinders het nie sigbare wonde of kneusplekke gehad nie. Die huis was egter deurmekaar.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld