2 kleuters brand dood
2012-01-14 08:39
Durban – Twee kleuters het gister hier doodgebrand nadat hul ma hulle in ’n kamer in ’n woonstel toegesluit en gaan inkopies doen het.
Volgens lt.kol. Vincent Mdunge, polisiewoordvoerder, het die ma gistermiddag by die woonstelblok aan die Victoria-keerwal opgedaag terwyl die brandweer besig was om die brand te blus wat na die verdiepings bo en onder haar woonstel uitgebrei het.
’n Lid van die polisie se soek-en-reddingseenheid is in ’n hospitaal opgeneem nadat hy sy been beseer het terwyl hy mense uit die brandende gebou gehelp red het.
Die verkoolde lyke van die kinders – 18 maande en 3 jaar oud – is in ’n kamer van hul woonstel gekry nadat die brand geblus is.
Volgens Mdunge was daar ’n diefweringshek voor die kamerdeur wat met ’n slot gesluit was.
Die oorsaak van die brand is onbekend, maar daar is wel bepaal dat die brand in die woonstel uitgebreek het waar die kleuters toegesluit was, het Mdunge gesê.
Die polisie het ’n dossier van ’n nadoodse ondersoek aangelê, maar dit word sterk oorweeg om ondersoek in te stel of die ma die Wet op Kindersorg oortree het, het Mdunge gesê.
“ ’n Mens kan sulke jong kleuters nie net alleen in ’n woonstel toesluit terwyl jy die winkels invaar nie,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld