2 kinders sterf, 85 beseer in botsing
2010-03-05 15:00
Johannesburg - Twee kinders is dood en 85 mense beseer ná 'n vragmotor Vrydag in Polokwane teen 'n bus gebots het.
Volgens die vragmotorbestuurder het die voertuig se remme die gees gegee na hy die N1 buite Polokwane verlaat het.
Hy het toe die toeter geblaas om motoriste by die kruising van Kerkstraat en Tzaneen-rylaan te waarsku.
Die vragmotor het toe teen 'n paneelwa, 'n taxi en toe 'n bus gebots. Die bus het toe op 'n Opel Corsa omgeslaan.
Supt. Moatshe Ngoepe het gesê daar was meer as 70 kinders in die bus en nog kinders in die taxi.
Al die kinders was leerders aan die Dihlathaneng primêre skool en was op 'n opvoedkundige toer.
Chris Botha, 'n woordvoerder van Netcare, het gesê vyf kinders was in die taxi vasgekeer en reddingskake moes gebruik word om hulle uit die taxi te bevry.
Twee kinders, albei 10 jaar oud, is dood.
Al die pasiënte is by 'n rampsentrum op die toneel behandel voor hulle na hospitale in die gebied geneem is.
Niemand is in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
– Sapa