2 kinders in kar: 'Wat’s die bohaai?'
2011-12-11 08:30
Vereeniging – Sy los haar kinders glo gereeld alleen in die swart BMW en was meer bekommerd oor die stukkende venster as haar byna dooie baba en peuter.
So beweer een van die mense wat twee meisietjies van onderskeidelik ses maande en sowat twee jaar die afgelope week in die versengende hitte uit ’n motor by ’n winkelsentrum gered het.
Die vrou, wat anoniem wil bly, sê sy het pamflette oor die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders in die Riversquare-winkelsentrum uitgedeel toe iemand haar om hulp gevra het.
“Die persoon het om 13:45 vir ons kom vertel van ’n kind wat in ’n motor toegesluit is en baie huil.”
Daar aangekom het ’n motorwag vir haar gesê die ma en twee ouer meisies van ses en tien jaar het sowat 20 minute vroeër by die winkelsentrum ingegaan.
Die ma (34) het een van die agterste vensters op ’n skrefie oopgelos, maar omstanders kon nie die deur deur die gaping oopkry nie.
“Die tweejarige het heeltyd my hand vasgehou terwyl hulle die motor probeer oopmaak het.
“Sy het gehuil en gesê sy is bang en baie dors. Haar jonger sussie het net daar gelê ... Hulle was papnat gesweet,” sê die vrou.
Die motorwag het die ma beskryf en verskeie omstanders het haar gaan soek.
“Ons het omstreeks 14:30 paramedici van Netcare ontbied. Ek het hulle gevra om ’n venster te breek. Ek was histeries en die kinders was reeds meer as ’n uur daarbinne. Die tweejarige wou my nie los toe ons haar uit die motor haal nie.
“Haar sussie het nie gereageer nie en volgens paramedici het sy skaars asemgehaal. Daardie baba sou gesterf het as ons langer gewag het,” sê die vrou.
Die kinders is na die Midvaal-hospitaal gebring.
Die ma het 20 minute nadat haar kinders hospitaal toe is daar aangekom en was glo woedend oor die stukkende venster.
“Sy het my gedreig en gesê haar man is ’n grootkop in Heidelberg en hy gaan my laat toesluit,” sê die vrou. Die ma kon nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie.
Sy het glo gesê sy los hulle gereeld in die motor.
’n Polisiebeampte wat op die toneel aangekom het, het die ma probeer kalmeer, maar sy het hom in die gesig geslaan. Hy het haar met pepersproei in bedwang gebring en gearresteer.
Die vrou is met die ma se twee ouer dogters ook polisiekantoor toe waar sy ’n verklaring moes aflê. “Terwyl daai twee klein kinders alleen in die hospitaal gelê het, het hul oupa probeer om polisielede te oorreed om die ma vry te laat.”
Die grootouers het hulle glo eers omstreeks 20:30 by die hospitaal gaan haal omdat hul pa, ’n soldaat by die Heidelberg-weermagbasis, nie kon nie.
Die ma het die naweek in die selle deurgebring en sal na verwagting Maandag in die hof verskyn op aanklagte van kinderverwaarlosing, aanranding en verset teen inhegtenisneming, het kapt. Shado Mashobane, polisiewoordvoerder, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport