2 by Zuma-huis aangehou
2010-03-18 06:39
Carina van Wyk
Johannesburg - Wagte buite pres. Jacob Zuma se huis in Forest Town, Johannesburg, het gister glo ’n fotograaf en ’n kadetverslaggewer van die Mail & Guardian in hul eie motor voor die huis aangehou.
Dit het gebeur net ’n dag nadat wagte van die president Tshepo Lesole, ’n Eyewitness News -joernalis van Talk Radio 702, by die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto hardhandig behandel en gedwing het om sy beeldmateriaal uit te vee.
Volgens Nic Dawes, Mail & Guardian se redakteur, het Delwyn Vera-samy, die fotograaf, en Lionel Faull omstreeks 10:00 foto’s van Zuma se huis gaan neem.
Wagte en ’n polisielid het hulle glo genader en sowat 40 minute in hul motor aangehou.
Die joernaliste het Dawes gebel en hy het soontoe gery. Hy het die wagte gevra waarom hulle Verasamy en Faull aanhou, waarna die wagte glo gesê het hulle word nie aangehou nie, maar hulle mag nie gaan nie.
Dawes het toe gesê: “As hulle nie onder arres is nie, gaan ons,” waarna hy en sy personeellede daar weg is.
“Om foto’s in ’n openbare straat te neem is nie onwettig nie. Hulle is joernaliste wat hul werk doen.”
Volgens Dawes kon ’n mens dit as ’n geïsoleerde voorval beskou as dit nie was vir die “bisarre” arrestasie van Chumani Maxwele, die Kaapse student wat verlede maand glo sy middelvinger aan pres. Jacob Zuma gewys het, en Dinsdag se voorval by die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal nie. “In daardie konteks is dit kommerwekkend.”
Felix Dlangamandla, Beeld se fotograaf wat ook by die hospitaal was, het gesien hoe wagte op Lesole geskreeu en hom aan die hemp geruk het nadat hy Zuma se motorkade afgeneem het.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het in ’n verklaring gesê die Eyewitness News-verslaggewer is geteister ’n paar weke ná vergaderings tussen Sanef, die minister en adjunkminister van polisie en die nasionale polisiehoof om die polisie se teistering van joernaliste te bespreek.
Die polisie het Sanef toe verseker lede sal joernaliste nie verhinder om hul werk te doen nie.
Vincent Magwenya, Zuma se woordvoerder, het Woensdag weer die verskoning gebruik dat die beskerming van die president die polisie se verantwoordelikheid is en nie die presidensie s’n nie.
Die presidensie is egter bekommerd oor “wat lyk na toenemende spanning tussen die polisie en die media” en het ’n verslag oor die gebeure aangevra.
Hulle gaan glo met die polisie vergader “om te kyk wat ons kan doen om die verstandhouding tussen die media en diegene wat die president beskerm te verbeter”.
Helen Zille, DA-leier, het gesê die aanranding van Lesola deur Zuma se wagte was magsmisbruik. Zuma, en niemand anders nie, is vir sy lyfwagte se gedrag verantwoordelik, het sy gesê.
Sr.supt. Lindela Mashigo, nasionale polisiewoordvoerder, het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.
- Beeld