2 betrap met 4 756 perlemoen
2009-12-09 12:49
Kaapstad - Die polisie het beslag gelê op 4 756 perlemoen in ‘n klopjag by ‘n huis in Mitchells Plain in Kaapstad.
Kapt. Rewayne Muller het gesê die polisie het op inligting van die publiek reageer en Dinsdag op die huis in Eastridge, Mitchells Plain, toegeslaan.
“Met hulle aankoms by dié adres het die polisie ‘n groot vrieskas in die kombuis ontdek wat met sakke vol perlemoen gevul was,” het Muller gesê.
“Nóg ‘n vrieskas, wat ook vol perlemoen was, is in die slaapkamer van die huis se boonste verdieping ontdek.
Twee mans is in hegtenis geneem en sal in Mitchells Plain se landdroshof op aanklagte van die onwettige besit van perlemoen verskyn.
- Sapa