172 verloor werk by drukkery
2009-07-23 07:45
Jan Gerber
Stellenbosch – Altesame 172 werknemers van Paarl Print se boeke-aanleg wat in April afgebrand het, is hul poste kwyt ná dié maatskappy se herstruktureringsproses.
Volgens me. Nelia Burger, Paarl Web se woordvoerder, is dié proses verlede Vrydag afgehandel en is 194 mense in die nuwe struktuur geplaas.
“Ongelukkig is 172 poste in die proses gerasionaliseer.”
Vroeër is berig oor groot onsekerheid onder werknemers oor hul toekoms by die maatskappy. Op 17 April kort ná 08:00 het die aanleg in die nywerheidsgebied Dal Josafat in ligte laaie gestaan nadat ’n brand vermoedelik in die kafeteria ontstaan het. Altesame 13 werknemers van Paarl Print is sedertdien dood.
“Die nuwe fabriek gaan oor die volgende ses tot agt maande vir die interim opgebou word op die persele van Paarl Web in die Paarl by 15 Jan van Riebeeckrylaan,” het Burger gesê.
Die Burger