14 nog vermis na tehuis-brand
2010-08-02 11:48
Johannesburg - Veertien bejaardes is nog nie opgespoor nie, nadat 'n brand by 'n tehuis in Nigel uitgebreek het.
Volgens owerhede kon van hulle deur familielede weggeneem gewees het sonder dat hulle uitgeteken is.
Die brand het omstreeks 21:00 by die Pieter Wessels-ouetehuis in Nigel ontstaan.
Altesame 18 mense is dood, drie is in die hospitaal opgeneem en 81 is op die toneel vir rookinaseming behandel. Die lyke van die sewentien mense wat doodgebrand het, is in die gebou gevind nadat die brand geblus is.
Een van die mense wat in die hospitaal opgeneem is, het 40% brandwonde opgedoen.
Van die oorlewendes is na ander ouetehuise gebring en kerke help ook om mense te huisves.
Forensiese spanne is op die toneel om te probeer vasstel wat die brand veroorsaak het.
Mense wat wil help kan die beheersentrum vir donasies bel by 011 734 4301. Meals on Wheels se kontaknommer is 011 874 5162 of 0833153154
- Beeld