13-jarige vermoor op haar verjaardag
2010-02-18 07:41
Johannesburg - ’n Krugersdorpse meisie is Dinsdagaand op haar 13de verjaardag saam met haar ma vermoor. Daarna het die ma se vriend homself ook vermoedelik doodgeskiet.
Kort tevore het die drie die verjaardag van Peaches Geel, ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Protearif, in die Spur-restaurant in die Key West-winkelsentrum gevier.
’n Familielid van die man het blykbaar op die bebloede lyke in die hoofslaapkamer afgekom toe hy ná 22:00 by die man se huis op die hoek van Hoofrifweg en John Hoatsonstraat in Wentworth Park aangekom het.
Peaches is met ’n pistool in die rug, regterbors en regterarm geskiet.
Haar ma, Olivia Geel (36), is daarna twee keer in die bors en in die kop geskiet.
Die mansvriend (41), wie se identiteit teen druktyd nog onbekend was, het sy vuurwapen toe vermoedelik op homself gerig en homself in die kop geskiet.
Kapt. Jacob Raboroko, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die dubbele moord en het ’n geregtelike ondersoek na die man se dood begin.
“Dis nie bekend of daar ’n rusie tussen die paartjie was voordat die moorde gepleeg is of wanneer presies die aand die voorval plaasgevind het nie.”
Donna Lourens, hoof van die Laerskool Protearif, het gister in ’n huldeblyk aan Peaches gesê: “Dit is met ’n groot hartseer en skok dat ons verneem het van die tragiese dood van een ons geliefde en baie gewilde gr. 7-leerlinge.”
Hy het haar “deurdringende teenwoordigheid en geaardheid wat haar so ’n gewilde leerling in die skool gemaak het” met die gedig “Geelperske gebed” vergelyk, waarin daar verwys word na “sagte deurdringende reën waarmee die Here die aarde seën”.
Lourens het in ’n verklaring gesê die skool is alombekend as die “omgee-familie” en het innige simpatie en meelewing met al haar naasbestaandes betoon.
“In omstandighede soos dié reik ek weer uit na alle ouers om hul kinders se kosbaarheid te koester en die skool te gebruik vir enige ondersteuning en hulp.
“Langs hierdie weg kan dergelike gebeure, waar kinders die slagoffers van volwasse geweld is, voorkom word!”
Luidens die verklaring groet Peaches se mede-Proties haar so: “Jou teenwoordigheid by ons skool was vir ons almal ’n seën, soos geelperske- reën!
“En waar jy nou is, mag sy liefde en trou, soos die son die ysberg se skitterblou, jou omvou!”
- Beeld