12 vas terwyl hof brand
2009-10-05 14:03
Herman Scholtz
Pretoria - Nooddienspersoneel het hulle Maandagoggend na die selle in die Pretoriase landdroshof gehaas om aangehoudenes te bevry wat vasgekeer is, nadat 'n brand in die gebou uitgebreek het.
Altesame 12 aangehoudenes is nog in die selle nadat die gebou ontruim is. Die personeel met die selsleutels kon nie opgespoor word nie en dus word hoekslypers nou ingespan om die seldeure oop te sny om hulle te bevry.
Na wat verneem word is die selle gevul met rook en staan reddingspanne gereed om te help.
"Ons sal alles moontlik doen om hulle te bevry, want menselewens is belangrik ongeag van wie dit is," Console Tleane, woordvoerder van Tshwane Gemeenskapsdienste, gesê.
Hy het gesê die brand het omstreeks 12:00 in die kelder uitgebreek. Dit is nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie.
Die hofgebou is ontruim nadat 'n brand in die gebou uitgebreek het.
Die brand het vermoedelik in 'n stoorkamer onder in die gebou ontstaan.
Alle howe is ontruim en aangehoudenes is almal by die hoofingang van die gebou uitgelaat omdat daar te veel rook in die selle is.
–Beeld
– Was jy op die toneel? Stuur vir ons jou foto's