12 vas ná reeks rooftogte
2010-05-18 10:57
Johannesburg – Twaalf mense is in hegtenis geneem in verband met ‘n reeks rooftogte in Mthatha, het die polisie in die Oos-Kaap Dinsdag gesê.
Na bewering was die verdagtes betrokke by sowat drie rooftogte die afgelope vier dae, het lt. kol. Mzukisis Fatyela, polisiewoordvoerder, gesê.
Die polisie het twee verdagtes tydens die laaste rooftog in Stokwestraat in South Ridgepark in hegtenis geneem. Dit het die polisie gehelp om die ander 10 verdagtes op te spoor.
Vyf van die verdagtes is Kongolese en sewe is Suid-Afrikaners. Hulle was almal tussen die ouderdomme van 20 en 31.
Die polisie het verskeie skootrekenaars, selfone en televisiestelle in die verdagtes se besit gevind.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.