12 sterf in brand by sorgsentrum
2011-06-13 07:37
Johannesburg – Altesaam twaalf mense is dood en 34 ander is beseer toe ‘n brand in ‘n tehuis vir bejaardes en verstandelik gestremde persone in Springs uitgebreek het, het paramedici gesê.
Jeffrey Wicks, woordvoerder vir Netcare 911, het bevestig dat twaalf mense vroeg Maandagoggend in die brand by die Struisbult-sorgsentrum dood is.
Altesaam 34 mense is in die brand beseer. Een persoon het kritieke beserings opgedoen toe die brand deur die enkelverdiepinggebou van die sorgsentrum versprei het.
Die Ekurhuleni-brandweer het die inwoners uit die brandende gebou bevry.
Die vrou wat kritiek beseer is, is op die toneel op ‘n asemhalingsmasjien geplaas voordat sy na ‘n hospitaal geneem is vir verdere behandeling.
Die ander beseerde persone is vir rook-inaseming behandel voordat hulle na verskeie mediese fasiliteite geneem is.
Brandbestryders het teen 02:00 die brand onder beheer gehad.
Zweli Dlamini, woordvoerder vir die Ekurhuleni-munisipaliteit, sê dit is onbekend hoeveel mense in die fasiliteit was toe die brand uitgebreek het.
Die oorsaak van die brand is ook nie bekend nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA