11 vas ná rooftog by Kaapse spoghotel
2011-07-12 15:13
Kaapstad – Altesaam 11 mense is in hegtenis geneem in verband met 'n rooftog by die luukse Hout Bay Manor-hotel, het die polisie Dinsdag gesê.
Die polisie het beslag gelê op 'n luggeweer en 'n speelgoedvuurwapen wat in die rooftog gebruik is, het ao. November Filander gesê.
Filander het gesê ses mans met klapmusse het 11 plasmaskerm-televisies, rekenaars en 'n hoëtroustel by die hotel gebuit.
'n Sekuriteitswag wat tydens die rooftog vasgevind is, is later met die misdaad verbind en Maandagaand in hegtenis geneem. Nóg twee verdagtes is Maandag in 'n taxi in Wynberg in hegtenis geneem.
Die trio het die polisie na 'n huis in Maitland gelei waar sewe Burundiërs in hegtenis geneem is.
Filander het gesê vyf van die gesteelde televisiestelle is in die huis gevind.
Nóg 'n Burundiër is Dinsdagoggend by 'n huis in Athlone in hegtenis geneem waar nóg 'n televisiestel en vyf van die gesteelde rekenaars gevind is.
'n Man wat die gesteelde items wou koop, het weggehardloop voor die polisie by sy huis in Kensington opgedaag het.
Filander het gesê een van die mans wat in hegtenis geneem is, is hospitaal toe geneem nadat hy uit 'n bewegende polisievoertuig gespring het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA