11 vas ná Sandtonse skietery
2009-08-06 15:05
Johannesburg – Elf mans is in hegtenis geneem nadat hulle ‘n polisieman tydens ‘n rooftog by die Gallo Manor in Sandton geskiet het.
Die voorval get omstreeks 18:45 Woensdagaand plaasgevind toe 13 rowers by ‘n winkel ingebars het en die bestuurders, kliënte en personeel gyselaar gehou het.
Insp. Lee Ramdiyal, polisiewoordvoerder, het gesê toe die polisie by die winkel opdaag was die rowers reeds aan die vlug.
“Die rowers en die polisie het op mekaar begin skiet. ‘n Polisieman is gewond en is na ‘n nabye hospitaal geneem. Die ander polisiemanne het die rowers agternagesit en 11 rowers gevang.”
“’n 9mm-vuurwapen, ammunisie, selfone, beursies, ‘n handsak en sigarette is uit die winkel gesteel en later weer gevind,” het hy gesê.
Die 11 mans word by die Sandton-polisiekantoor in Johannesburg aangehou.
Die soektog na die ander twee mans duur voort.
– Sapa