109 skole sal in Gauteng gesluit word
2010-06-03 04:59
Johannesburg – ‘n Totaal van sowat 109 skole in Gauteng sal gesluit word weens die “verouderende populasie”, het die departement van onderwys Woensdag gesê.
“Daar is eenvoudig nie genoeg leerders om na al hierdie skole te stuur nie en ons moet rasionaliseer,” het Charles Phahlane, die departement se woordvoerder, gesê.
“Ons moet sommige skole sluit en die leerlinge na ander skole in ander areas verskuif.”
Die DA is egter nie tevrede met die departement se besluit nie en het sy “ontevredenheid” rondom dié besluit bekend gemaak.
“Ons stem nie saam met die departement se besluit om skole te sluit weens die verouderende populasie nie,” het Khume Ramulifho, DA-woordvoerder vir onderwys in Gauteng, gesê.
“Die rede vir die sluit van die skole maak net nie sin nie. Nou sal verskeie leerlinge op ‘n gereelde basis vervoer benodig.”
Volgens Phahlane is daar sowat 27 skole in Soweto wat gesluit sal word.
“Daar is sowat vyf skole in ‘n baie klein area, wat vir verskillende tale voorsiening maak. Ons moet die effekte van apartheid uitwis deur skole veeltalig te maak. Mense kan nou lewe waar hulle wil. Daar is geen meer beperkings nie.
“Die jonger generasie beweeg nou uit die informele nedersettings uit na die stede. Die ouer generasie word agtergelaat. Dit het tot gevolg dat daar al hoe minder leerlinge is wat van die skole in die area gebruik maak,” het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA