102 kinders in skoolbussie geprop
2010-02-26 15:00
Kaapstad - Die bestuurder van 'n skoolbussie is in hegtenis geneem ná hy 102 kinders in die bussie geprop het terwyl daar vir slegs 18 plek was.
Merle Lourens, woordvoerder van die Kaapstadse verkeersafdeling, het gesê die bussie het deur Mitchells Plain gery.
Die bussie het 'n vals registrasienommer opgehad, die agterremme het nie gewerk nie, die veiligheidsvensters is vervang met perspex en houtbankies is in die bussie vasgekap as ekstra sitplekke.
"Kinders tussen die ouderdomme van 5 en 13 het op die vloer en op mekaar se skote gesit," het Lourens gesê.
Die 49-jarige bestuurder is aangekla omdat hy sonder 'n geldige rybewys en 'n professionele bestuurspermit bestuur.
– Sapa