10 j. gesoek, toe ontsnap hy uit toilet
2011-11-02 09:05
Pretoria – Die polisie het tien jaar lank na die vermeende verkragter van ’n Tukkie gesoek voordat hy verlede week per toeval deur die polisie gearresteer is en toe weer uit polisiebewaking ontsnap het.
Die drie lasbriewe wat uitgereik is vir die 24-jarige man is onder meer vir verkragting en poging tot moord.
Die lasbriewe is reeds in 2001, 2002 en 2004 uitgereik.
Die polisie het Dinsdag ’n foto beskikbaar gestel van Tsietsi Samuel Mziza, na wie hulle soek.
Die jongste voorval wat hulle ondersoek, is dié waarin ’n 22-jarige student aan die Universiteit van Pretoria Woensdagaand in haar huis in ’n veiligheidskompleks in Magalieskruinm Pretoria, aangeval, verkrag en vir dood agtergelaat is.
Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie, het gister gesê iemand wat sulke geweldadige misdade pleeg, moes ten minste op die polisie se lys van mees gesoekte misdadigers verskyn het.
“As die man al sedert 2001 weens geweldadige misdade gesoek word, moes sy foto’s baie vroeër uitgereik gewees het sodat die polisie hom kon probeer opspoor,” het Burger gesê.
Die slagoffer in die jongste voorval het die aand van haar aanval die hek by haar woonkompleks ná Bybelstudie vir gaste oopgemaak sodat hulle huis toe kon gaan.
Toe sy terug in haar huis kom, het ’n man haar ingewag.
Hy het ná die aanval met haar skootrekenaar en selfoon gevlug.
Die erg beseerde vrou het haarself na haar tuinhekkie gesleep waar ’n inwoner van die kompleks haar gekry het.
Sy is 23 keer met ’n mes gesteek waarvan agt potensieel dodelik was.
Haar vermeende verkragter is langs die pad waar hy duimgegooi het, deur die polisie opgelaai.
Hulle het onraad vermoed omdat hy ’n skootrekenaar by hom gehad het. Daar was ook bloed op sy skoene.
Ná sy inhegtenisneming is hy Vrydag sonder hand- of voetboeie na die dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, geneem nadat hy gesê het hy voel siek.
Daar het hy deur ’n toiletvenster geglip en ontsnap.
Die twee polisielede wat verantwoordelik was vir sy bewaking is dieselfde dag gearresteer en later op waarskuwing vrygelaat.
Hulle staan tereg op aanklagte van regsverydeling en hulpverlening tot ontvlugting.
Mense wat weet waar Mziza is, kan kapt. Alet Pratt by 082 319 3269 bel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld