1 sterf toe 2 motorfietse voertuig tref
2009-11-22 02:24
Kaapstad – Een persoon is Saterdagaand dood en drie ander beseer toe twee motorfietse in die agterkant van ‘n voertuig vasgejaag het.
Die ongeluk het in Kraaifontein, naby die Cape Gate-winkelsentrum in Kaapstad, plaasgevind.
Volgens Tristan Wadeley, woordvoerder vir ER24, is die man op die toneel dood verklaar nadat noodhulp deur paramedici onsuksesvol was.
“‘n Vrou is in ‘n ernstige toestand na die Tygerberg-hospitaal geneem, en twee ander is na die Durbanville Medikliniek geneem,” het hy gesê.
Wadeley sê niemand in die voertuig is beseer nie.
"Die pad is gesluit terwyl polisie die voorval ondersoek,” het hy gesê.
- Sapa