1 dood, 3 beseer in ongeluk
2010-01-22 10:30
Johannesburg – ‘n Man is Vrydagoggend dood en drie ander mense is beseer tydens ‘n ongeluk tussen drie voertuie en ‘n vragmotor op die N14.
Twee van die beseerdes is in ‘n kritieke toestand terwyl die ander persoon ernstig beseer is, het Percy Morokane van die Johannesburgse nooddienste gesê.
"Volgens ‘n ondersoek wat ingestel is ná die oorsaak van die ongeluk het ‘n wit Bantam-bakkie, wat na Pretoria onderweg was, van die N14-oos na die N14-wes oorgekruis en met ‘n BMW gebots. ‘n Vragmotor het toe in dié twee voertuie vasgery, gevolg deur ‘n Ford Fiesta,” het Morokane gesê.
Die bestuurder van die BMW, wat in sy 50’s is, is op die toneel dood verklaar.
Die N14 in die rigting van Krugersdorp is gesluit en motoriste word aangeraai om dié pad te vermei.
- Sapa