Video: Stemband klets met Die Antwoooooord
2010-10-04 20:56
In-diepte Verslae
Moses Metro Man, die nuutste Afrikaanse groep van Potch, vertel hoeveel geduld en McDonald’s burgers dit vat om ‘n album op te neem.
By die Matt Black-sessions en DPK se Bob en sop-aand het veral een Bob dinge oorheers, soos BobbeJan Gerber uitgevind het.
Stemband het Die Antwoord die afgelope naweek vasgetrek vir 'n onderhoud in Kaapstad, kort nadat hul moers suksesvolle wêreldtoer tot 'n einde gekom het.
Ons was by die gig in die Dream Factory in Orphanstraat, waar 'n handvol mense dié private-rige paartie bygewoon het.
Lees verder om te sien wat by die gig gebeur het, maar check eers die video hier onder. Kliek hier as jy dit in 'n effens groter formaat wil sien.
Wat die gig betref....
Fizzers en suikerklontjies lê (vir een of ander rede) uitgestrooi oor die kroegtoonbank, so ‘n halwe klipgooi van die verhoog wat Ninja en Yo-Landi binnekort sal betree.
Vanaand se vertoning, in die pers gebou wat The Dream Factory heet, is ‘n kleinskaalse affêre, ‘n kopknik-dankie-ons-werk-lekker-saam-gebeurtenis tussen die wêreldverorberende Die Antwoord en die vervaardigingsonderneming(s) (en dié se kliënte) met wie die groep skouer-aan-skouer staan in die moederland.
So, die skatting was op so ‘n 400-sterk gehoor. Meestal hipsters uit die advertensiebedryf. Kyk, daar’s baie cool mense in die advertensiebedryf, maar die milieu van onverskilligheid onder die partytjiegangers was jammerlik. Ek meen, waar’t jy al gesien dat die hoofsanger van ‘n groep van die verhoog af spring, regdeur die venue hardloop tot by die kroeg om vir ‘n ou mooi te vra om te “please shut the fuck up.”

Foto: Henry Cloete
Maar dan, het jy al Die Antwoord live gesien?
Maar wag, ek loop my storie vooruit…
Die geleentheid het ook gedien as ‘n semi-bekendstelling van Die Antwoord se nuwe video, Evil Boy. Hulle voer dit uit saam met ‘n nuwe kletsrymer op die toneel genaamd Wanga – ‘n skugter jong man met ‘n stem soos ‘n wegholbees. Jy kan die video nou by Watkykjy kyk, hulle het dit Woensdag gegooi.
Die lied gaan essensieël oor die praktyk van tradisionele besnydenis. Wanga is een van dié wat besluit het hy wil dit nie deurmaak nie en… wag wag, laat die video julle eerder later verras.
Ons is ook mooi gevra (die fokken dood voor die oë gesweer) om nie video of foto’s van die Evil Boy-video te neem nie, want die Amerikaners is baie kwaai oor release dates en media en so.

(Blurry) foto: Henry Cloete
So, ek sou nou graag hier wou uitbrei oor die video, maar ongelukkig het die video my brein laat smelt en kan ek nie veel onthou nie. Al wat ek kan sê is dat as jy gedink het “Wat Pomp” is soos ‘n onbeheerbare bol van energie, “Enter the Ninja” is onrusbarend, “Beat Boy/Zef Side” is vuil en “Doosdronk” het ‘n verwoestende sweepslag-beat… well friends, you ain’t seen nothing yet.
Ninja met ‘n marsupial-tipe suit (wat agterstevoorom is), Yo-Landi met helderblou kontaklense soos ‘n verleiderlike dood en Wanga wat in geen onsekere terme nie sy gevoelens oor die besnydenis-praktyk spoeg... opspraakwekkend, betowerend, befok.
Ninja het op die verhoog rondgejaag met ‘n aanhangsel wat ek nog nie by hom gesien het nie – ‘n District 9 Alien-arm… Wikus van der Merwe mutated dus, met rooi water, spoeg en sweet wat die gebied voor die verhoog in ‘n moeras van bedenklike vloeistowwe laat ontaard.
(Ek het in ‘n stadium probeer om so ‘n cool slide met my knieë deur die moeras te doen en ‘n foto te neem terwyl ek so cruise, maar het my knie teen die vloer gestamp en omgeval.)

Yo-Landi skud water uit vir die gehoor en Ninja skud... er, Ninja skud. Foto: Henry Cloete
Dit was verbysterend om te sien dat ‘n groep wat pas van so ‘n moerse wêreldtoer (Amerika, Europa, Japan, noem dit maar op) terugkom, soveel energie en persoonlikheid in ‘n gig by ‘n klein venue vir so ‘n handvol mense doen. (Kyk die video om te hoor hoe hulle daaroor praat)
Daar is nou maar mense wat Die Antwoord net mooi niks laaik nie. Vir hulle sal Ninja heelwat te sê hê, maar ek dink nie dis hier publiseerbaar nie. Ek sal bloot vir hulle sê: hê respek. Hierdie twee is al bitter lank in die bedryf en werk hul gat af om te vermaak, en staan nie ‘n oomblik terug nie, al is dit nou nie New York nie.
Die set-list was nie lank nie – Enter the Ninja, Doosdronk en Wat Pomp was dié wat die grootste entoesiasme van die gehoor ontlok het.
En tog was dié entoesiasme skraal. Ninja het minstens drie keer die gehoor ingedonder om aan iemand te pluk wat iewers seker staan en praat oor kreatiwiteit en BMW’s.

Ninja ontmoet 'n hipster. Foto: Henry Cloete
Nie dat die uwe nie ook deurgeloop het nie. Tydens “Wat Kyk Jy” is my kamera se lens deur Ninja vasgegryp soos ‘n mikrofoon terwyl die koortjiewoorde daarin gebulder is, en met “Doosdronk” se “Wie’s jy, niks, jou hond…”-gedeelte het Yo-Landi ‘n hele bottel water oor my uitgegooi en my toe, seker for good measure, met die ding gegooi. Later, tydens die onderhoud, sou sy my verseker dis bloot “uit liefde uit”.
Ja wel, dis harde liefde wat ek graag vat. Dalk is dit net die verkeerde crowd gewees, maar my donner, ek hoop die res van die skares wat hulle terug in SA begroet is meer ontvanklik.

Fizzers is tog ook net vir só lank só interessant. En te oordeel aan Die Antwoord se huidige werksetiek en kreatiewe mindset (soos uit die video blyk), is hulle nie Fizzers nie. Want Fizzers fizz vinnig.
En ek dink ons kan met sekerheid sê Die Antwoord is nie suikerklontjies nie.
- Sluit by Stemband aan op Facebook en kry al ons kief updates.