Video: Zebra & Giraffe klets met Stemband
2010-10-21 17:43
In-diepte Verslae
Moses Metro Man, die nuutste Afrikaanse groep van Potch, vertel hoeveel geduld en McDonald’s burgers dit vat om ‘n album op te neem.
By die Matt Black-sessions en DPK se Bob en sop-aand het veral een Bob dinge oorheers, soos BobbeJan Gerber uitgevind het.
Zebra & Giraffe se toer om hul tweede album te launch het ook in Bloemfontein die mense laat skud, skryf Laurissa Vergottini. Sy het ook die groep se leier en hoofsanger, Greg Carlin, vasgetrek vir 'n video-onderhoud. Lees Laurissa se musings oor die gig hier onder en kliek hier om die video te kyk.
Laurissa Vergottini
Bloemfontein - Zebra & Giraffe stap op stage en met die eerste liedjie word ek so gestamp dat ek my drankie laat val.
Ek kyk nie eens af nie. Het ons nie maar gewoond geraak aan mediocre live optredes nie? Terwyl die crowd begin maal kyk ek op en dink aan die cover charge. R30. What a joke. Ek besef dit is nie lank voor hul kaartjies verkoop vir R300 nie.
Die Mystic Boer in Bloemfontein is ‘n beskeie plekkie, amper soos ‘n groot meenthuis, en gewoonlik pas almal net mooi in as daar die dag ‘n band speel. Ek besluit toe om vroeg te gaan om plek te kry en kom vinnig agter dat die helfte van Bloemfontein dieselfde idee gehad het. Ná ‘n paar sigaretbrande en rooiwynvlekke op my hemp kom ek redelik naby aan die stage.

Foto: Ilonke De Lange
Nou kyk, Vrystaters is nie fussy nie, as ons ‘n bekende band kan kyk, gee ons nie rerig om hoe goed, of hoe nugter hul is nie.
Nie een fout nie, nie een vals noot nie en nie een vyf minute breuk vir shooters nie. Hulle meen besigheid.
Die nasionale album launch toer is op ‘n einde vir hul tweede poging, “The Inside”, en die nuwe materiaal is net waarvoor al die honger aanhangers gevra het. Zebra & Giraffe het vir my ‘n baie spokerige en dramatiese klank en die nuwe songs klink steeds so, net groter en klein bietjie harder by party plekke.
Die titelsnit van die album is klaar ‘n reuse-sukses, met “Bleed Me Out” wat dieselfde gevolg gaan hê. Die lirieke van die album is gelaai met klomp persoonlike boodskappe en dit is duidelik dat voorman, Greg Carlin, elke woord wat hy sing bedoel.

Foto: Ilonke de Lange
Hul het dieselfde producer ingespan, met wêreld-bekende mixer, Cenzo Townshend, wat met bands soos U2, Snow Partol en Editors gewerk het.
Dit, en die feit dat Greg nie meer alles alleen doen soos met “Collected Memories” nie, gee die album ‘n klank wat uit sy nate bars. Maar die ding wat my die meeste beïndruk is Zebra & Giraffe se professionaliteit. In ‘n industrie waar cd-verkope maar swak vaar is dit nie ‘n slegte idee om ‘n goeie live show te gooi nie en daar is min wat by diè band kan byhou.

Foto: Ilonke de Lange
Ná die show staan daar ‘n reuse trok (‘n trok, nie ‘n mini-van nie) buite wat al die klanktoerusting vervoer terwyl die band saam met hul teginiese span inpak. Dit voel vreemd om daarna te kyk. Hul het gekom om ons ou Bloemfonteiners te bederf. Such nice guys. Ek het regtig probeer om ‘n fout te soek, ek sweer, maar ek kan niks slegs sê nie. So as die hele storie eensydig klink is dit omdat hul net eenvoudig so goed is.
Ek kan nie verstaan hoe ‘n band soos Zebra & Giraffe nog nie internasionaal opslae gemaak het nie. Ek wens ek kan ‘n massiewe neon sign, wat die hele wêreld kan sien, reg langs hul sit wat sê “Look what we’ve got!!”
Ek weet ek moet net geduld hê, dit is net ‘n kwessie van tyd.
- Laaik Stemband op Facebook en kry al ons kief updates
- Wil jy skryf vir Stemband? Stuur 'n e-pos met jou idee aan stemband@nuus24.com.