Oppikoppi vir 'n ex-expat
2010-08-25 20:29
In-diepte Verslae
Moses Metro Man, die nuutste Afrikaanse groep van Potch, vertel hoeveel geduld en McDonald’s burgers dit vat om ‘n album op te neem.
By die Matt Black-sessions en DPK se Bob en sop-aand het veral een Bob dinge oorheers, soos BobbeJan Gerber uitgevind het.
Oppikoppi is ’n naam wat ek assosieër met cool. Vandat ek 14 jaar oud is, het ek gedroom daaroor om self ’n ‘road trip’ aan te pak en die musiekfees by te woon. Maar ek was te jonk, en my planne van ’n studenteloopbaan op Tukkies is in die wiele gery toe my ouers ’n nuwe plan gemaak het – om sak en pak Engeland toe te trek.
(Stemband nota - kliek hier om ons vriende by Weg! se video oor Oppikoppi en die Kreef Hotel te kyk)
So op die ouderdom van 26, nadat ek myself meer as ‘n dekade later terug in Suid Afrika bevind, het ek vir die eerste keer die geleentheid gekry om die legendariese bosveldfees by te woon. En ek was nie teleurgesteld nie. Ek was ook baie bly om te sien hoewel die fees al in sy 16e jaar is, was ek nie te oud of te laat nie.
Ek het my nuwe tuiste, die Kaap, se fluweel-groen berghange agter gelaat, deur die swart-verskroeide veldjies van die Hoëveld se winter gery en later die been-droeë, stowwerige wêreld van Brits en Thabazimbi binnegegaan om by my eindbestemming te kom – ‘n plasie op die grens van Limpopo en Noordwes buite die dorpie Northam.
Effens gesnoeker deur Johannesburg se langnaweekverkeer, het ek en ’n paar vriende eers na donker aangekom op die plaas. Maar hoe opwindend om saam met duisende ander mense en honderde karre - asof op ‘n pelgrimstog - die grondpad af te volg in die donker, en te wonder wat voorlê...

Foto: Aletta Gardner
Ongeveer 80 bands en musikante het oor die langnaweek op 4 stages opgetree, maar vir sommiges is die musiek amper ’n bysaak. Vir 3 dol dae is dié stukkie bosveld in die middel van nêrens omskep in ’n mal gemeenskap. Hippies, goths, musiekliefhebbers van alle soorte, ou mense, jong mense, mense met tattoos, piercings, mense wat diervelle en blommetjie-uitrustings dra... Ek het selfs ’n man gesien met ‘n ‘one piece’ elektriese blou lycra-uitrusting en meisies wat asof uit ‘n ander era grasieus met klein sonsambreeltjies deur die stof wandel.
Die geleentheid gee lisensie om die vreemdste en mees verspotte uitrustings in jou klerekas (of in jou ouma se klerekas) saam te bring, en konvensionele gedrag by die huis te los. Hier kry jy selfs ’n sitkamerbank in die veld, ’n buitelug-pooltafel en reuse luidsprekers wat die normaalweg vreedsame landskap bedonner... Meeste van die reëls word gebreek, en ek skat dis hoekom duisende mense elke jaar hiernatoe stroom vanuit elke hoekie van die land.
Ons partytjie het ingeboek by ’n baie oulike besigheid langs die hoof kamparea, genaamd die “Kreef Hotel.” As jy ’n paar ekstra rand in jou sak het, en jy’s nou nie lus om ’n tent al die pad van Kaapstad af saam te sleep nie kry jy hier ene wat reeds opgelaan staan en wag vir jou, selfs met ’n matrassie in. Ander eksklusiewe geriewe sluit in ’n buffet ontbyt elke oggend, storte, en nogal ’n kans om te meng met van die kunstenaars, groot name en bekende gesigte wat ook by die fees ’n verskyning maak. Dis ook ’n plek om heen te vlug as die malligheid net te veel raak tussen die “prawns.” Ja, Oppikoppi beteken lank nie meer dat jy soos ’n dier hoef te lewe en Maandag van voor af moet aan pas by die beskawing wanneer jy huis toe gaan nie (alhoewel dit maar so bly vir die ander 13,500 of so bywoners).

(Foto: Aletta Gardner)
’n Bekende plaaslike supermodel was een van die handjie vol (500) gaste wat in die relatiewe luukse “Kreef” tuisgegaan het, sowel as ’n sekere bebaarde Afrikaanse musikant wat die tentjie langs myne bewoon het, en Maandagoggend in sy onderbroek uitgestrompel gekom het. As ek net daar ’n fototjie vir ‘n poniekoerant geneem het, kon ek dalk ’n paar rand ryker gewees het.
Half tien Vrydagaand toe ons vir die eerste keer die feesterrein binnetree was daar reeds ’n paar siele vir wie die oomblik te groot was, wat bewusteloos in die stof gelê het. Die musiek is hard en aanhoudend die hele nag deur – nog lank na meeste mense gaan uitpaas in hulle tente – en dis eers teen omtrent 7:30 in die oggend weer stil.
En dan onthou jy werklik waar jy is.
Ten spyte van die onvermydelike kopseer en stowwerige, droë mond en oë was dit magies om wakker te word tussen die doringbome, die reuk van gisteraand se vuur wat nog aan als kleef, en die vars rook van ontbytvure wat deur die swaar, koue oggendlug syfer. Dis ’n reuk waarvoor ek van kleins af al verskriklik lief is, en onthou hoe dit in my pa se baadjie ingetrek het en mens so ’n stukkie bos kon saam terug neem huistoe.
Die oggend se eerste geluide is die sagte stemme van mense wat wakker word, ’n generator wat tevrede brom, en ‘n eensame vuvuzela, wat vreemd klink tussen die fisante en tarentale. En terwyl jy lê en dink hoe wonderlik dit is, hoor jy iets wat nie deel van die plaaslike wild is nie – ‘n verre kreet van: “Oppiii!!!” Beantwoord deur: “Koppiiii!” vanuit ’n ander tent. Ja, dan besef jy hierdie is nie enige bosvakansie of kampeer ekspedisie nie. Jy is by die grootste geleentheid op die Suid Afrikaanse rockmusiek-kalender.
Behalwe vir al die plaaslike bands, was daar Nederlandse, Britse, en Kanadese musikante op die line-up, maar ’n baie onwaarskynlike groep het een van die grootste skare getrek. Die Radio Kalahari Orkes het op die James Phillips Mane Stage opgetree en sowat 6,000 mense in die stof laat ronddans op hulle klank van viool, kitaar en trekklavier tunes. Dit het natuurlik allerhande vrae ontlok oor die herlewing van populêre boeremusiek onder jongmense, veral omdat dit enigiets behalwe net ’n klomp nostalgiese Afrikaners was wat dit so geniet het...
Al was dit my eerste Oppikoppi, het ek reeds na dag een geweet dit sal maar bitter moeilik wees om in die toekoms op ’n ander plek te wees terwyl jy weet dit is aan.
Sondag het summier met ’n bier na ontbyt begin, in die son langs die poeierfyn, warm as van gisteraand se vuur, waar ek ’n gesprek aangeknoop het met ’n oulike paar knape van verskeie Afrika-lande wat ook hulle debuut by die fees gemaak het. Ek het ’n paar keer mense hoor praat oor hoeveel Oppikoppi-gangers dié jaar vir die eerste keer gekom het – en die plaas se eienaar, Boors Bornmann, het self gesê hoewel die fees nie amptelik “uitverkoop” is nie, was hulle genoodsaak om kaartjieverkope te stop toe dit blyk dat hulle 14,000 oorskry het.

Foto: Aletta Gardner
Hoewel die musiek teen 11 vm al begin het, was ek steeds vasgenael in die Kreef en kon myself nie kry om uit te stap na die hoof feesterrein nie. Dis dié klein akoestiese vertonings wat die cherrie op die koek was. ’n Kaapse musikant met die naam Les Javan het baie ‘understated’ die kitaar en bekfluitjie begin speel. Les is ’n voormalige lid van die Gramadoelas, en is nou ook ‘artist in residence’ by die Solms Delta-wynplaas buite Franschhoek wat gemeenskapswerk onder die plaasaarbeiders doen.
Hy het naderhand op ’n paar van die gehoorlede se sterk aandrang toegegee en sy song ‘Gemoedsrus’ begin sing. Ek’s daar oorval deur bodemlose emosie en ’n enorme knop in my keel het die trane opgestoot – hierdie mooi, eenvoudige Afrikaans het iets aan dié voormalige expat se hart gedoen; iets ver terug, by die heel begin gaan put... iets gesê van die verlede, verlies, die hede en die toekoms... en ’n gerusstellende gevoel het oor my gespoel – ek’t geweet my taal is alles behalwe dood.
Later het Vusi Mahlasela in die laatmiddag gesing hoe sy hart “Afrika” sê, al loop hy deur die koue strate van Londen, en ek het geweet presies wat hy bedoel terwyl ek op die strooi onder ’n briljante blou hemel gesit het. Later het ek tydens die einde van die Valiant Swart Tribute Show terwyl die ‘Die Mystic Boer’ oor die vlakte weergalm het, afgekyk van bo-op die koppie en die hele ding probeer inneem – die duisende mense, die gevoel van samesyn, die rook van menigte klein houtvuurtjies wat tussen die doringbome uitstyg, en die son wat pienk gaan lê op die horison. Ek het daar sonder twyfel geweet ek is op die regte plek, op die regte oomblik.
Ek’t nog later daai aand baie in die stof gedans, roosterkoek gevreet, en was stomgeslaan deur BLK JKS – ’n groep ouens van Johannesburg wat glo deesdae meer bekend in New York is as Suid-Afrika, vir een of ander vreemde rede.
Selfs al is jy vir die hele naweek nugter, is dit onmoontlik om seker te maak dat jy op niks uitmis nie, tog voel jy nie geforseer om rond te moet haas van een stage na die ander nie, en kan jouself net oorgee aan die rustige rivier van mense wat deur die feesterrein vloei.
Ek is heeltemal te jonk om regtig met enige gesag te kan praat oor Woodstock, maar van wat ek verstaan slaag Oppikoppi om iets van daai spirituele vibe vas te vang wat daardie musiekfees so bekend gemaak het.
Teen Maandagoggend toe dit tyd was om my slaapsak op te rol, en my ongelooflike vuil klere huiwerig in ’n sak in te stop, het ek geweet: Jy kan my hart net hier begrawe. Hy kan maar neerplof in die stof, of in die sagte, grys as wat in ’n hopie om die vuur lê. Jy kan hom versier met pendorings en tarentaal vere. Die bos is my altaar - Die stof wat jou vel rooibruin verkleur, die fisante wat jou wakker sing, die vuur wat jou geselskap hou tot die son opkom - as jy dit nodig het.
Ek is nie seker of ek myself verbeel nie, maar na ‘n week terug by die huis en menige storte kon ek sweer ek kan nog steeds Oppikoppi se bosveldvuur ruik in my hare.

Foto: Aletta Gardner