Musiekfees van FORRmaat
2010-09-13 10:53
In-diepte Verslae
Moses Metro Man, die nuutste Afrikaanse groep van Potch, vertel hoeveel geduld en McDonald’s burgers dit vat om ‘n album op te neem.
By die Matt Black-sessions en DPK se Bob en sop-aand het veral een Bob dinge oorheers, soos BobbeJan Gerber uitgevind het.
Maputo - Ek is broke, effe gebroke en broos. My ore sing nog, my lyf is seer en my kop is moeg...of dalk anders om, ek is nie seker nie. Die pad huis toe is lank en dit is laat in die nag.
Die oorsaak van my ongemak is tweeledig – eerstens blameer ek iets wat hulle R&R’s noem. Goedkoop Mosambiekse rum gemeng met raspberry-koeldrank (maar ek noem dit RR&R; Rum, Raspberry en Rennies).
Tweede, en die hoof rede vir my verknorsing, is die feit dat ek vir die eerste keer in jare ‘n oorspronklike musiekfees bygewoon het, en hoeka een buite Suid-Afrika. Ek ly amptelik aan ná-musiekfees-moegheid.
Die Fellowship of Rock & Roll-musiekfees (FORR) het vanjaar vir die tweede keer in Ponta Malongane, netso ‘n katspoegie oor die grens met Kosibaai, plaasgevind.
Dit is afgesplinter van ‘n soortgelyke fees, die Subterranean Rhythm & Blues Experience (STRAB), en vanjaar was die tweede keer wat die organiseerders van FORR dié vier-dag-lange fees op die been gebring het. ‘n Taak, mag ek byvoeg, waarvan hulle hulself goed gekwyt het.
Die enigste ding waarvan daar te veel in Mosambiek is, is tyd (tyd en moontlik goedkoop rum) wat hierdie fees meer na ‘n vakansie as ‘n wegbreek-naweek laat voel.
En, behalwe daarvoor dat ‘n effens ouer, meer volwasse groep feesgangers verseker word deur dat dit bietjie meer geld, moeite en ‘n 4x4 verg om FORR by te woon, was die musiek-deel van die fees ook fantasties saamgestel.
Bellville tienermusiek wat tot vervelens toe in verskeie vorme by elke fees kop uitsteek, is vervang met minder bekende maar ‘n fantastiese talentvolle verskeidenheid musiekgroepe.
Dit gesê moet ek bieg dat jong volwassenes deur die misbruik van R&R’s vervang is met jong volwassenes wat soos tieners in Bellville kuier.

(Them Particles)
Op die verhoog was ou bekendes soos Valiant Swart, Scicoustic, Dan Patlansky en Akkedis asook minder bekende groepe soos Mrs. B, Nibs van der Spuy en Them Particles.
Hoekom Akkedis nie meer bekend is nie gaan my verstand te bowe.
Met soveel jare op die verhoog agter hul naam as wat meeste musiekgroepe wat tans oproer maak in bestaansjare het, en ‘n passie vir rock & roll was dit een van die beste vertonings wat ek nog bygewoon het.
Die groep het vir byna twee ure lank vermaak en in ware rock & roll -styl afgesluit met Arthur Dennis wat teen die einde met ‘n sigaret in die een hoek van sy mond en instrument in sy arms skuins-lip gesing het sonder om een woord, of noot, te mis.
Nibs van de Spuy, voorheen van die groep Landscape Prayers, is ‘n sagte siel met diep lirieke en stil-word-musiek wat uitgestaan het tydens al die acoustic middagsessies terwyl Mrs. B tydens die laaste aand van die fees uitgeblink het.
Ek vermoed die feit dat ‘n erg oorgewig hoofsanger saam met al die ander groeplede bikini-toppies gedra het en so nou en dan ‘n gesonde vloekwoord en grappie ingepas het, het iets met die saak te make gehad.
Valiant en Dan was, soos altyd, ‘n ‘smash hit’ terwyl die ander kunstenaars nie gesukkel het om feesgangers opgewonde te kry nie.
Behalwe vir musiek en rum - FORR is moontlik een van die min plekke waar mans nog pienk drankies gemaklik kan verslind - is daar menigte ander aktiwiteite wat nie inkopies by ‘te duur’ stalletjies insluit nie. Nog iets wat dit weereens van soveel ander feeste onderskei.
Dink strandstappies of kleurvang ná die winter, duik, snorkel en quad-ritte alles gevolg deur die aand se gekuier tot laat in die Mosambiekse sterrenag.

Ponta do Ouro is ‘n woeste paar minute se ry met jou 4x4 van die kamp af en die organiseerders integreer ook plaaslike liefdadigheidswerk met hul projek PayItFORRward, waartydens feesgangers dorpies in die omgewing invaar en baie nodige donasies aan inwoners maak. Die omgewing is veilig en duimgooi onder feesgangers om deur die dorpies te gaan het gesorg vir lekker vertelstories en ‘n heerlike uitstappiedag.
As jy nie ‘n 4x4 het nie en brand om FORR by te woon kan jy vir ‘n bietjie ekstra van FORR se grens-vervoer gebruik maak en jou motor by die grenspos agterlaat vir die naweek. Jou kaartjie sluit wel akkommodasie in wat wissel tussen algemene kampeerplek tot hutte of tente.
Ek kon aan niks dink wat FORR nie die moeite, en afstand, werd maak nie.
Gegewe die R&R’s raak rof en mens slaap bitter min, maar ten spyte daarvan dat ek aan ná-musiekfees moegheid ly en nie gou weer my lippe aan enige pienk drankies wil sit nie, is daar iets rock & roll daaraan om met sonsopkoms op die strand te staan en te luister na die oorskot van gisteraand se gekuier wat vanuit die bittereinders in die fees se enkele kroeg in die semi-donkerte in dreun.
Dit is dán wat jy by jouself dink; “hel, dit was ‘n goeie musiekfees hierdie!”
*Stemband is Nuus24 se nuutste liefdeskind, met al die musieknuus wat jy ooit sal nodig kry. Volg ons op Twitter of sluit aan by ons Facebook-groep.