Mozart met 'n tulband
2010-09-29 11:59
In-diepte Verslae
Moses Metro Man, die nuutste Afrikaanse groep van Potch, vertel hoeveel geduld en McDonald’s burgers dit vat om ‘n album op te neem.
By die Matt Black-sessions en DPK se Bob en sop-aand het veral een Bob dinge oorheers, soos BobbeJan Gerber uitgevind het.
Dorpstraat Teater, Stellenbosch...
Mozart met ‘n tulband, of ‘n sigeuner met blink gepoetste skoene. Hierdie is die tipiese beelde wat jy in jou geestesoog optower wanneer jy na die Stellenbosch-gebasseerde groep Manouche luister. Díe voorreg het my onlangs te beurt geval in die nuwe tuiste van Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch, op die plaas Summerhill.
“Ons speel Gypsey Jazz” is die woorde waarmee die hoofkitaarspeler en band se spreukbuis, Bernard Kotze, die gaste verwelkom het.

Foto: Wilken Calitz
Die meeste musiekliefhebbers het darem so 'n halwe idee wat jazz is, maar die “gypsey”-toevoeging het aanvanklik die wenkbroue in ongeloof laat lig. Is hierdie nog ‘n band wat boheems aantrek en dan covers vir ‘n lewe doen?
Alles behalwe! Van meet af gooi Manouche jou met allerlei interessante musikale idees wat jou tegelykertyd wil laat dans en eers vorentoe leuen, en luister na ‘n vreemde, tog uitnodigende klankkleur. Iets is anders, en tog vaagweg bekend. Ritmes en vars gekomponeerde melodieë wat anderwêrelds met jou kop smokkel.
Hoe gewoond is ons nie daaraan om konstant in Afrikaans gebombardeer te word met resep-danstreffers wat bepaal dat “Dame” nou vervang word met “Baby” en bloed is mos deesdae “tjoklits”. Hoe salig is dit dan nie om gelawe te word in ‘n bries van onpeilbare en nie- gestandaardiseerde musikale idiome nie!
‘n Bries uit ‘n vroeëre era. Frankryk se agterstrate in die 1930’s om presies te wees. Kotze verduidelik dat twee style hier vermeng het. Die swing-era van Europa voor die Groot Oorlog en ‘n meer chromatiese donker kant, eie aan die gypsy, wat ontmoet het in die nagklubs van Parys.
Inderdaad. Telkemale tydens van hul nuutskeppings, asook van hul verwerkings van bekende temas, word jy onverwags verlei deur die sjarme van allerlei instrumentkombinasies en vind jy jou gedagtes dwaal na eras en plekke waarvan jy nog net foto’s gesien het.

Foto: Wilken Calitz
Dit is tog die doel van ware vermaak, of goeie en deurdagte vermaak (kuns?) wanneer jy onbewustelik transendeer tot iewers anders. Jou sintuie en huidige bewussynsvlak vervaag in ‘n ander realiteit, gekleur deur klank. So dan, beplan of nie, tydens ‘n stuk genaamd “Bluesy,”het die ligte saam met die eerste wieg-akkoorde begin verblou tot ‘n Indigo-landskap. Maar, ligte of te not, die klank het vanself die verfwerk gedoen. As goeie visuele kuns dan klanke optower by die kenners, dan is goeie klank verantwoordelik vir die keersy.
Die keersy is dat weldeurdagte klank, beelde en selfs tonele uit die fliek wat jou lewensverhaal uitbeeld (ja, almal dagdroom daaroor) na vore bring. Indien daar iewers ‘n moord in my lewensfliek sou wees, kies ek die eerste twee nommers uit die tweede helfte waar Lize Dekker, die akkordionspeler se skaduwee, (weereens so beplan?), onheilspellend teen die verhoog se dak gedans het.
Hierdie klanke herinner aan die oploop tot die makabre gebeurtenis waartydens die moordenaar met die mes dans en draai in die halflig van ‘n agterstraat lank gelede. En so wrintiewaar, die volgende toneel is ek weer velief in dieselfde stad, wiegend met ‘n beminde se voorkop teen myne, wanneer die einste Lize die mikrofoon nader trek en die bekende “Last night” sing.
Ander items sluit ‘n paar komposisies in deur die groep wat die viool, gespeel deur Reneé Stander, tot sy ware reg laat kom. Hoe wonderlik is dit nie as ‘n klassieke musikant sy of haar hare los maak en die rouheid van improvisering ontgin nie? Stander speel die een oomblik met sigeunersbravade wat jou oë laat knip van virtuose ongloof, ondersteun deur wat slegs gekwalifiseer kan word as ‘n sirkus punk-band wat uitmekaar val (terloops ‘n ongelooflike effek!), en neem dan die gehoor in die palm van haar hand en fluister sagkens ‘n paar vioolnote om diegene wat die voorafgaande deel nie oorleef het nie, tot herontwaking te lei.
As jy dalk een aand vaal van gemoed is, en jou eie beeld in die spieël verveel jou, doen jouself ‘n guns. Trek jou laagste hals aan, kies ‘n duur bottel wyn en maak geen beloftes aan wederhelftes van tuiskomstye nie, en gaan kyk hierdie band. Want, Manouche mag jou dalk net verlei en vir ewig ontvoer.

Foto: Verskaf
Die band is:
Kitaar: Bernard Kotze
Kitaar: Thomas Hugo
Viool: Reneé Stander
Trekklavier: Lize Dekker
Kontrabas: Aldred Schilder
Cajon en ander perkussie: Martyn van der Merwe