Kings of Leon - going back down South
2010-11-03 16:30
In-diepte Verslae
Moses Metro Man, die nuutste Afrikaanse groep van Potch, vertel hoeveel geduld en McDonald’s burgers dit vat om ‘n album op te neem.
By die Matt Black-sessions en DPK se Bob en sop-aand het veral een Bob dinge oorheers, soos BobbeJan Gerber uitgevind het.
Stellenbosch. – As Kings of Leon se eerste albums na sweet, semen en bourbon geruik het, dan het hul vierde, Only by the Night, na ontwerpersparfuum geruik. Dít het nie met almal se musikale neusgate geakkodeer nie, terwyl ander nie genoeg kon kry nie.
Maar moenie dat dit jou afsit van hul nuutste album – Come Around Sundown – nie. Gebroeders en neef Followill is weer sweterig, en daar is ook die soet aromas van sonbrandmiddel en surfwax by.
Die album se eerste snit is “The End” (dis nie ’n cover van The Doors se epiese song nie). Laas toe ek ’n album gekry het waarvan die eerste song “The End” heet - My Chemical Romance se The Black Parade - wou ek weke lank die strate invaar om anargie te saai (ek het nie, want ek is lui, maar dit is die idee wat tel).
So, dit het ’n groot verwagting geskep. “The End” skop af met so ’n strak trom-intro wat my baie herinner aan John Bonham se timmerwerk op Led Zeppelin IV se “When the Levee breaks” (nie heeltemal so brutaal nie, maar tog). Gevolglik was ek skaars nadat ek die Play-knoppie gedruk het reeds baie opgewonde. Dié entoesiasme het nooit getaan nie, en nou dat ek dié skryf, ’n week later, het ek skaars na iets anders geluister.
Die lead guitar het nog soms daai atmosferiese reukwater-waaib van die vorige album, maar oor die algemeen is dit weer eerlike rootsrock.
Daar is ’n duidelike hunkering terug na hul Southern rock-roots. Een van die songs heet immers “Back Down South” (met so ’n lekker fiddle!).
Dit is so bietjie stadiger as die eerste drie albums. Maar dit is nie een van daai Jack Johnson-ek-gaan-jou-nou-aan-die-slaap-sing affêres nie. Dit is meer so ’n babelaas luiheid.
En dit pas by die lirieke, moontlik hul beste liriese poging tot dusver.
Nou kyk, vandat Only by the Night se “Sex on Fire” radio- en tv-golwe aan die brand gesteek het, het die album treffer ná treffer opgelewer.
Ek vermoed dit gaan nie die geval wees met Come Around Sundown nie (dalk word ek verbaas). Mens kan hulle nogal op die skouer klop dat hulle besluit het om van die vorige album se suksesresep af te wyk en gedoen het wat hulle lus was om te doen.
“Give me something I can believe in,” sing Caleb op “No Money”.
“I got no money but I want you so.”
Ek dink dié een gaan deel van my persoonlike soundtrack word.
Eendag gaan ek voel soos hulle op “No Money” sing: “I cannot handle/ And all this pissing around/ Cut loose in this fucking town/ I aint coming back”.
Dán gaan ek vir my een van daai split-windscreen Kombi’s kry, my surfboards inpak, al langs die kus af patroleer vir afgeleë branders en saans op die strand bourbon uit die bottel drink (dié whiskey, darem).
En Come Around Sundown gaan een van die albums wees waarna ek dan gaan luister.
- Laaik Stemband op Facebook en kry al ons kief updates
- Wil jy skryf vir stemband? Stuur 'n mail met jou idee aan Stemband@nuus24.com.