Groot gees rock steeds
2011-01-17 22:09
In-diepte Verslae
Moses Metro Man, die nuutste Afrikaanse groep van Potch, vertel hoeveel geduld en McDonald’s burgers dit vat om ‘n album op te neem.
By die Matt Black-sessions en DPK se Bob en sop-aand het veral een Bob dinge oorheers, soos BobbeJan Gerber uitgevind het.
Stilbaai - Dit is 27 Desember 2010, en ek voel lekker. Môreoggend sal ek onder ‘n tent-dak-ding op die vloer onder iemand se handdoek wakker word, maar vir nou is daar eers geesfees.
As ek so na die spul om my kyk, dink ek hulle voel ook goed. Al dreig die wolkgemors daarbo om enige oomblik te begin sweet. Al is hier sulke @#% dorings wat die idilliese somergees belemmer weens die onklaarheid wat jou kannie-kaal-voete aan die skets bring. Al weet jy die allerlieflike Jagermeister-meisies in die oranje baaibroekies se glimlagte en verleiderlike kwinkslae is leeg en nie aan jou as mens nie, maar jou as kliënt uitgedeel.

Orraait, genoeg van hierdie onsinnige gebabbel. Kom ons praat oor die show.
Dis Stilbaai, dis Avontoer, dis befok.

Ek het helaas bietjie laat opgedaag en dus vir Wrestlerish en No One’s Arc gemis, maar darem so die helfte van Mr. Cat & The Jackal se show gesien. Kyk, dis moeilik om Mr. Cat & The Jackal se shows te probeer verduidelik. Hulle is moontlik die rockgroep met die meeste tierlantyntjies (van die verskeidenheid instrumente op die verhoog is die trekklavier die mees konvensionele) en tog met die rouste energie wat ek al gesien het.
Mr. Cat & The Jackal was saam met Glaskas, The Pretty Blue Guns en Die Tuindwergies (en natuurlik Wrestlerish en No One’s Arc) ongelukkig om slots vroeg in die middag te moes vul, toe die ondersteunerskorps nog skraps was. Maar dan, jy kan dit van enige van die groepe op die line-up sê en blykbaar was daar ‘n roteerbasis vir die toer. So dis moeilik om veel oor hul optredes te skryf – energie was daar beslis en die handvol lojale ondersteuners wat lyfgeruk het voor die verhoog het my hieraan laat dink:
...ek weet ook nie hoekom nie.
Met Zinkplaat se toetrede was daar al genoeg mense dat ‘n mens hulle “skare” kon noem. Dis hier waar die line-up begin bons het – Zinkplaat het uit hul (wye) repertoire net die regte kombinasie ingespan om aan die fees se naam gestand te doen en die gees uit die hoed te pluk. Ek vergeet nou die song se naam, maar “Op die heuwels waar ons bymekaar kom, hierdie aand is ‘n tydbom” is sekerlik ‘n temalied vir die Avontoer. As dit nie is nie, moet dit wees.

Want dis gepas, en die arms-omhoog-troepe heel voor sou dit beaam.
Tidal Waves was volgende, en ek het nie meer oortreffende trappe oor om hul optredes te beskryf nie. Ek het een keer probeer, in Rapport, maar dit vang dit steeds nie heeltemal vas nie... kyk, as jy dans met Tidal Waves , hang jy nie aan elke woord nie, jy hang aan elke noot en bliksem jou bonkige vakansieliggaam se vetselle oor die dekpuntgrens.

Die trekpleisters van trekpleisters was natuurlik die romantiese Afrikaans Superster rapper, Jack Parow. Die skare-turgiditeit het ‘n makimumpunt bereik toe sy beurt aanbreek, en Parow op stage is natuurlik Parow op stage, ping-pong oor die planke en ping-pong met die p-woord(e). Ek spekuleer egter graag oor of Parow nie maar ‘n band kan kry pleks van die alewige backtrack nie – nie dat daar per se iets fout is met die backtracks of die konsep (met noukeurigheid toegepas, natuurlik) nie, maar vat byvoorbeeld sy CD-launch verlede jaar – daar was gedurig collaborators op die verhoog, asook ‘n band, en dit het baie kleurrykheid aan die vertoning gelewer nie. Mens kan ook nou nie al jou collaborators die hele tyd saam met jou laat reis nie, maar dit hoef ook nie die een of die ander pool te wees nie. (Soos in, teenpole. Nie een of ander Poolse mens nie.)
Een of ander Poolse mens.
Isochronous was bitter tight en bitter indrukwekkend, al het hulle nou weer die nadeel gehad om heel laaste aan beurt te wees. Dit sou by baie shows ‘n voordeel kon wees, maar die voorafgaande acts het die gehoor bietjie uitgeput, het dit geblyk. Dié wat oorgebly het, in elk geval. Op ‘n vakansiedorp soos dié wil die jongmense seker gaan skoffel laat in die aand. Of op die strand gaan sit. Watookal jongmense deesdae doen.
So, kortom, lankom, om-om, daar’s nie eintlik veel meer om te sê nie. As jy die Avontoer-gigs al bygewoon het, weet jy dis elke keer moerse lekker en dit sal vir ewig wees, vir soveel redes.
As jy nog nie het nie... waar was jy?
- Lees ook ons kollega's van Channel24 se Avontoer-dagboek.

- NS My kamera se battery het gesterf tussen Tidal Waves en Jack Parow, vandaar die gebrek aan foto’s van laasgenoemde.
- Wil jy vir Stemband skryf? Stuur 'n e-pos aan Stemband@nuus24.com