Braakselsmeersel: Willim Welsyn in Aan de Braak
2010-08-25 20:29
In-diepte Verslae
Moses Metro Man, die nuutste Afrikaanse groep van Potch, vertel hoeveel geduld en McDonald’s burgers dit vat om ‘n album op te neem.
By die Matt Black-sessions en DPK se Bob en sop-aand het veral een Bob dinge oorheers, soos BobbeJan Gerber uitgevind het.
Jan Gerber
Willim Welsyn kom van Ladismith in die Klein-Karoo en nie van Potch nie en gevolglik is Bouwer Bosch nie in sy video’s nie. Hy is ook nie ‘n rat in die Bellville hype-masjien nie. En hy dra nie skinnies nie.
Dis dalk hoekom daar Saterdagaand min mense in die Aan de Braak-teater in Stellenbosch was. Of dalk was dit omdat die Springbokke, en nog erger, die WP, verloor het, dit gereën het of jy nie die Aan de Braak-teater se deur kon kry nie.
Watookal. Dis jou probleem.

(Foto: Jan Gerber)
As jy nie wou uitvind hoekom hy, en nie “die ou met die snor by die bar” en ‘n verspotte lang pet die Huisgenoot Tempo-toekenning vir beste kopskuif-album gewen het en hy sopas vir Rapport se Vonk-toekenning vir beste alternatiewe album benoem is nie, dan het jy nie verdien om daar te wees nie.
Maar wag, genoeg van my bitterbek-brakery.
Willim doen dinge op sy manier. As hy lus voel om manalleen net sy kitare, loop pedal, amps en ‘n kickdrum te gebruik om ‘n gig te speel, dan doen hy dit so. Selfs al het sy amps nie juis hul samewerking gegee nie en vir allerhande probleme gesorg en The Terrace, daar onder die teater, se DOEF! DOEF! DOEF!-musiek die kersies en Tassenberg-bottel op die tafels laat vibreer.
Die twee probleempies sou baie musikante goed die moer in gemaak het, maar Willim het die situasie met ‘n glimlag hanteer en gedoen wat hy daar was om te doen: sy songs gespeel. Dié het hy volgens tema opgedeel in vier “hoofstukke”: om mee te begin Die Dood, toe Huismoles, toe Diere en toe Die Liefde. Ek mag die volgorde dalk nou verkeerd onthou (dié whisky, darem).
Hy’t afgeskop met my gunsteling Welsyntreffer: “Miskien is dit jy”. Dan het hy ook moontlik die enigste song waarin na Kuilsrivier verwys word gedoen – die moordballade “Jannie Kanker”.
Willim se lirieke is… anders. Dis soos ‘n volmaan-beligte Karoolandskap, maar die karoo-bossies is heldergroen en neonpienk. En sy kitaar is ‘n wind wat oor dié landskap waai, soms ‘n soel briesie, soms ‘n orkaan.
Hy het ook, soos een van sy gunsteling groepe, The White Stripes, tydens die hoofstuk oor Die Liefde, Dolly Parton se “Jolene” gecover. Dit amuseer my altyd wanneer ‘n man dié song hartstogtelik sing.
Maar die beste deel van dié gig was dat hy geskimp het oor wat volgende kom. Hy het ‘n paar songs van sy volgende album, Smeer die Weerlig, gedoen, onder andere die titelsnit.
So, gaan jy volgende keer na The Terrace se DOEF! DOEF! DOEF! luister, of jy gaan jy eerder dat Willim jou koors smeer?