Watson kap Nieu-Seelander
2011-06-28 07:20
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria – Die aard van die skrum-oortreding is iets wat skeidsregters in Sanzar-geledere reeds twee seisoene lank polisieer, maar die uitvoering daarvan deur Bryce Lawrence Saterdag in die Crusaders-Sharks-wedstryd was eenmalig en waarskynlik ’n “breinfloute”.
Só het Suid-Afrika se skeidsregterbaas, André Watson, Maandag by navraag aan Sport24 gesê na aanleiding van ’n strafskop wat Lawrence teen die Sharks gegee het – nog voordat die Suid-Afrikaanse span eens met hul Kiwi-teenstander in die skrum kontak gemaak het.
Dit het ernstige vrae laat ontstaan oor Lawrence, wat ook die eindstryd van die Super Reeks gaan hanteer, se vertoning en of daar ’n nuwe vertolking rakende die skrums is.
Watson het gesê daar kan nie weggeskram word van die feit dat Lawrence ’n flater begaan het nie. “Ons probeer die laaste seisoen of twee reeds om spanne in die skrums te straf wat doelbewus vooraf die kontakpunt effens verskuif.
“Dit is gewoonlik die verdedigende skrum wat effe na die kant toe skuif en daardeur probeer verhinder dat die aanvallende span ’n regterskouer kry. Dit was wat Lawrence wou doen.”
Volgens Watson was Lawrence se verwysing na “gevaarlike spel” onsinnig.
“Ek weet nie hoekom hy daardie woorde gebruik het nie, maar dit was nie reg nie en het nie sin gemaak nie. Ek is ook nie so seker dat die Sharks, op hul eie ingooi, sou skuif nie.
“So ek is nie seker waarom Lawrence tot daardie gevolgtrekking gekom het nie. Dit was swak kommunikasie van Lawrence en klaar.”
Watson meen Lawrence is die regte man om die eindstryd te hanteer.
“Bryce word hoog geag deur die afrigters in die Super Reeks. Ons het vanjaar hul insae saam met die punte van ons eie keurders gebruik om die skeidsregters vir die uitspeelstryde te bepaal. Hy het ’n goeie jaar gehad en ons moenie dat een en ’n halwe swak beslissing dit ongedaan maak nie.”
Die voormalige skeidsregter en joernalis Paul Dobson het vroeër op die rugbywerf 365.co.za ook geskryf dat Lawrence se vertolking veel te wense oorgelaat het.
Hy het ook die blaser se vertolking by “daardie” skrum sterk veroordeel.
Volgens Watson is Dobson se kritiek geregverdig.
“Daardie aspek waar die voorry doelbewus skuif, is iets wat skeidsregters kan bestuur.
“Hy kon die voorry gewaarsku het en die skrum weer laat vorm het. ’n Strafskop in die sewende minuut van die wedstryd, met só ’n swak verduideliking waarom die strafskop toegeken word, is nie goed genoeg nie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24