Vuvuzelas nou Bulls se Speler23
2010-05-24 13:07
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Christo Buchner
Johannesburg - Gaan die Stormers ook Saterdag in die Orlando-stadion in Soweto voor die vuvuzela-aanslag swig?
Victor Matfield, die leier van die Bulls-trop, erken hy het nooit kon verwag watter uitwerking die geraas van die vuvuzelas in die halfeindstryd teen die Crusaders sou hê nie.
Die Bulls het met 39-24 koning gekraai en moet as die gunstelinge beskou word om Saterdag weer daar hul kroon as Super14-rugbykampioen teen die Kapenaars te behou.
Die intieme atmosfeer van die Orlando-stadion, waarin die lawaai van die vuvuzelas iets is om te beleef, en wat die Bulls nou al ervaar het, moet aan hulle ’n voordeel bied in die eindstryd.
Tog wil Matfield nie so lekker vat kry aan daardie een nie.
“Jong, ’n eindstryd is iets anders. Ek dink sake gaan baie gelykop verloop en al is ons nou vertroud met die atmosfeer daar, gaan dit ons nie noodwendig bevoordeel nie.
“Tog was dit ongelooflik om daardie vuvuzelas te hoor. Jy moes dit daar op die veld ervaar.
“Dit was iets uit hierdie wêreld. Ek het nog nie só iets op ’n rugbyveld ervaar nie,” sê hy.
Dit is veral baie intimiderend vir die besoekende stelskopper om te midde van daardie lawaai te probeer konsentreer om die bal deur die pale te skop.
Peter Grant (Stormers-losskakel) kan hom dus vetsmeer vir ’n verwelkoming soos min in die Orlando-stadion.
In ’n eindstryd soos wat Saterdag wag word, kan een of twee stelskoppe juis die verskil maak.
Morné Steyn, losskakel van die Bulls, het Saterdag klaar gewys hy is so tuis om daar aan te lê pale toe soos ’n eend in water.
Die Bulls het hul huiswerk goed gedoen nadat hulle twee weke gelede net-net teen die Crusaders op Loftus Versfeld in Pretoria deurgeskraap het.
“Ons het geweet wat hul strategie gaan wees en daar is besluit om hulle met hoë lugskoppe te peper,” sê die Bulls-afrigter, Frans Ludeke.
Dié taktiek het skitterend gewerk, want die besoekers was omtrent so veilig onder die hoë bal soos geld wat op Bafana Bafana verwed word om die Wêreldbeker te wen.
Puntemakers:
Bulls 39: Drieë: Pierre Spies, Zane Kirchner, Fourie du Preez. Doelskoppe: Morné Steyn (3). Strafdoele: Steyn (6).
Crusaders 24: Drieë: Richie McCaw, Sean Maitland, Sam Whitelock. Doelskoppe: Dan Carter (3). Strafdoel: Carter.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
-Sport24
- Die Burger