Vergeet spanpraatjies!
2010-05-15 08:50
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell, Die Burger
Kaapstad - Die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, hoef hom nie oor ’n spanpraatjie te bekommer voor vandag se Super14-rugbywedstryd teen die Bulls op Nuweland nie.
Wat die Stormers te doen staan, is eintlik heel eenvoudig – ’n sege met of sonder ’n bonuspunt oor ’n verswakte Bulls-span verseker die Kapenaars van ’n halfeindstryd teen die Waratahs op Nuweland.
Hulle het vroeër vanjaar maklik met die Waratahs afgereken en daar is geen rede waarom hulle dit nie weer kan doen nie.
Die algemene gevoel is dat daardie roete hulle ’n eindstryd by die Orlando-stadion in Soweto sal besorg, maar hokaai, die Bulls moet nog eers die Crusaders klop.
Gaan Victor Matfield-hulle dit regkry teen ’n span wat die afgelope twee weke tekens van sy beste spelpeil begin toon het? En hoe groot aanpassing gaan dit wees om Loftus vir die onbekende van Soweto te verruil?
Net wanneer ’n mens soms dink die Super14-reeks is voorspelbaar, gebeur iets onverwags, en daarom geld die ou cliché wat ons elke week hoor – dat die manne “net op die volgende wedstryd moet fokus”. Veral nou.
Daar is ander permutasies wat kan beteken dat die Stormers hul halfeindstryde in Sydney of Soweto sal moet speel.
Die een wat hulle sekerlik die meeste wil vermy, is ’n wedstryd teen die Waratahs in Sydney. Dit sal gebeur as hulle gelykop speel of verloor, maar steeds twee bonuspunte aanteken.
As die Stormers verloor met of sonder ’n bonuspunt, eindig hulle vierde en is ’n halfeindstryd teen die Bulls in Soweto hul voorland. Laasgenoemde sal eintlik beter wees as om die Waratahs met vlugvoosheid in hul agterplaas aan te durf, daarom bied die ergste scenario steeds vir die Stormers ’n tweede kans.
Maar kom ons wees eerlik: as die Stormers vandag verloor, sal dit net wees omdat hulle onder die druk van hoë verwagtinge vou. Watter kans dán in Soweto of Sydney?
Dis onwaarskynlik dat dit met ’n span sal gebeur wat ’n ervare kern met Schalk Burger, Tiaan Liebenberg, Andries Bekker, Jaque Fourie en Bryan Habana het.
Dat die Bulls nie onderskat moet word nie is seker so. Jy neem nie ’n span met ’n slotpaar soos Bakkies Botha en Flip van der Merwe ligtelik op nie.
Maar heng, dis sekerlik nie ’n teken van respek aan die Stormers en die Nuwelandse skare om met ’n drasties verswakte span hier op te daag nie.
Siniese waarnemers sal dit selfs as ’n vorm van minagting beskou. Die Stormers sal dit natuurlik nie sê nie, maar sal sekerlik die veld met die Bulls se “B-span” wil vee.
’n Nederlaag vir die Stormers is ondenkbaar en sal die top-punt van vernedering wees.
Die spanne is:
Stormers: Joe Pietersen, Gio Aplon, Jaque Fourie, Juan de Jongh, Bryan Habana, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Duane Vermeulen, Francois Louw, Schalk Burger (k), Andries Bekker, Adriaan Fondse, Brok Harris, Tiaan Liebenberg, Wicus Blaauw. PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, Eusebio Guinazu, Anton van Zyl, Pieter Louw, Ricky Januarie, Willem de Waal, Tim Whitehead.
Bulls: Tiger Mangweni, Jaco van der Westhuyzen, Stephan Dippenaar, De Wet Barry, Deon Helberg, Jacques-Louis Potgieter, Heini Adams, Pedrie Wannenburg, Gerrit-Jan van Velze, Derick Kuün, Bakkies Botha (k), Flip van der Merwe, Bees Roux, Bandise Maku, Jaco Engels. PLAASVERVANGERS: Chiliboy Ralepelle, Dean Greyling, Fudge Mabeta, Okkie Kruger, Ruan Snyman, Francois Brummer, Stefan Watermeyer.
Skeidsregter: Jonathan Kaplan.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24