Twee baljagters skrik Bulls nie af
2012-04-12 09:57
In-diepte Verslae
Die Crusaders het die Blues behoorlik op hulle plek gesit in dié twee spanne se Superrugby-kragmeting by die Christchurch-stadion.
Die Cheetahs se afrigter, Naka Drotské, het die versoeking weerstaan om Heinrich Brüssow in die 15-tal te kies vir die stryd teen die Higlanders.
Pretoria – Hulle het respek vir die Lions se twee baljagters, Derick Minnie en Cobus Grobbelaar, maar volgens die Bulls se kaptein, Pierre Spies, gaan dit nie enigsins verander aan wat hul doelwit Saterdag op Coca-Colapark in dié twee spanne se Super-rugbywedstryd gaan wees nie.
“Ons gaan ons patroon op hulle probeer afdwing en eerder pro-aktief in ons uitvoering wees en nie vir hulle wag nie,” het Spies gesê.
Die Bulls het vroeër vanjaar teen die Braid-broers van die Blues gesukkel en is verlede Saterdag teen die Crusaders ook aanvanklik ore aangesit deur Matt Todd-hulle.
Pat Lam en Todd Blackadder, afrigters van onderskeidelik die Blues en die Crusaders, het agterna verduidelik dat hulle die Bulls se baldraers op ’n spesifieke manier teiken en dat die tweede baljagter hier ’n groot rol speel. ’n Mens kan dus verwag dat John Mitchell ’n blad uit sy twee landgenote se boek sou neem, vandaar die keuse van twee baljagters.
“Daar is nie juis ’n groot verskil in die manier hoe baljagters speel in die drie lande nie. Ons uitdaging lê daarin om ons besit en ons baldraers beter te beskerm,” het Spies gesê.
Dit is egter nie al waar die dwarslat gelig moet word nie, erken hy.
Die stadige begin, wat teen die Blues, Stormers en Crusaders tot inhaalrugby gelei het, is nog ’n fokuspunt.
Die Bulls-afrigter, Frans Ludeke, wys daarop dat al drie daardie spanne ’n goeie stamboek het.
“Daardie spanne het die vermoë om jou foute uit te buit en dit is wat daar gebeur het. Teen die Crusaders het ons die inskop gemis en toe nog ons eerste lynstaan ook verloor. Sulke foute kos jou en ons sal beslis fokus op ’n goeie begin teen die Lions, veral omdat hulle tot op die einde steeds daar sal wees. Hulle hou nie op speel nie,” het Ludeke gesê.
Ludeke het Johann Sadie en JJ Engelbrecht laat plekke ruil vir die Lions, maar sê dit is nie ’n mosie van wantroue in Sadie nie.
“Glad nie. Johann het een of twee ligte beserings en om regverdig teenoor hom te wees, het die spel nog nie regtig na sy kant toe gekom nie.”
Wilhelm Steenkamp speel in Flip van der Merwe se plek.
“Ons gee Flip ruskans, want sy lies is nie lekker nie.”
Ludeke het verras deur Dewald Potgieter buite die siekeboeg in te wag en speelveld toe te sleep. Dié Springbok-kantman is eers Woensdag die jawoord gegee om weer te speel.
Die Bulls se span (met getal Super-wedstryde) is:
Zane Kirchner (60), Akona Ndungane (73), JJ Engelbrecht (6), Wynand Olivier (92), Bjorn Basson (31), Morné Steyn (95), Francois Hougaard (34), Pierre Spies (78, k), Jacques Potgieter (6), CJ Stander (6), Wilhelm Steenkamp (41), Juandré Kruger (6), Werner Kruger (64), Chiliboy Ralepelle (41), Dean Greyling (21). PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi (1), Frik Kirsten (8), Dewald Potgieter (46), Arno Botha (3), Jano Vermaak (78), Louis Fouché (4), Johann Sadie (11).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24