Taaier, fikser Sadie ‘brand’
2012-02-21 08:00
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pretoria. – Daar is vlinders ja, maar eerder ’n opgewondenheid om hul Super-rugbyloopbane as Bulls aan die gang te kry.
En nee, dit maak nie saak wie in die Sharks-middelveld in hul openingswedstryd van die 2012-reeks Vrydagaand uitdraf nie, húlle sál gereed wees.
Só glo die Bulls se senterpaar vir Loftus Versfeld se groot stryd, Francois Venter en Johann Sadie.
Albei maak hul debuut as Bulls-spelers, maar waar Venter in sy eerste Super-wedstryd gaan speel, het Sadie al sewe keer vir die Stormers uitgedraf. Sy debuut in 2011 was teen die Reds.
“Alles het verander sedert ek 13 weke gelede hier by die Bulls aangekom het. Ek is sterker, fikser, geestelik taaier en brand om al daardie harde werk van die laaste paar maande in aksie te omskep,” het Sadie gesê.
“Dinge word heelwat anders hier gedoen as by die Stormers en elkeen van die streke het sy eie kultuur.
“Ek wil nie graag die twee teen mekaar afspeel nie, maar kan wel sê dat ek nooit geweet het waartoe my liggaam en verstand in staat was voordat ek by die Bulls ingeval het nie. Ek het nie geweet ’n mens kan só ver gedruk word nie.”
Venter het reeds as skoolseun geweet hy gaan by die Blou Bulle inval en het dadelik ingepas.
“Ek het ook verlede jaar al vir die Blou Bulle in die Curriebeker uitgedraf en onder meer teen die Haaie gespeel, so ek weet darem waarin ek my gaan bevind,” het die 20-jarige binnesenter gesê.
Hy besef hy speel in die beseerde Wynand Olivier se plek, maar gaan dit nie daar laat nie.
“Ek het ongelooflike respek vir Wynand en hy help my baie,” het die gewese leerling van Grey-kollege oor sy onderkaptein gesê.
“Maar dit gaan my nie help om net te aanvaar ek gaan nie speelkans kry nie.
“Dit is nie hoe ek is nie en sal hom al die pad druk vir ’n plek in die beginspan,” het Venter gesê.
Sadie gaan moontlik teen JP Pietersen te staan kom nadat die Bok-vleuel in voorseisoense wedstryde daar uitgeblink het.
“Dit is goed om hom op senter te sien, maar hy sal wel agterkom dat elke posisie sy eie eise stel. Dit is altyd ’n grote teen die Sharks voor ’n volgepakte Loftus.
Dit is iets waarvoor ek nou al lank wag,” het Sadie met ’n groot glimlag vertel.
Venter se direkte teenstander kan Paul Jordaan wees, wat soos hy, senter vir Grey, in die SA Skolespan en SA o.20-span gespeel het.
“Hy was ’n jaar ná my op skool, maar dit gaan in elk geval nie saak maak hoe oud jy is nie. Ek was in graad sewe toe Deon Stegmann in matriek was en nou is ons spanmaats. Jy moet glo én wys jy hoort hier, ongeag jou ouderdom,” het hy gesê.
Intussen het die Bulls goeie nuus gekry met Jacques Potgieter wat Maandag sonder probleme kon oefen. Hy had las van ’n rugbesering en kan nou Dewald Potgieter vervang wat sy arm beseer het.
Jean Cook (voet) en Arno Botha (rug) is ook onfiks.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24