‘Super14-komplot’
2010-05-12 07:04
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Die Waratahs oorweeg dit om ’n klag by Sanzar in te dien oor die Bulls se besluit om verskeie van hul topspelers vir Saterdag se Super14-rugbywedstryd teen die Stormers te laat rus.
’n Sege vir die Stormers oor ’n verswakte Bulls-span sal die Kapenaars van ’n halfeindstryd op Nuweland verseker.
Die Waratahs is derde op die puntelys – een punt agter die Stormers, maar baie swakker daaraan toe op punteverskil. Hulle speel Vrydag teen die Hurricanes in Sydney. Die spanne wat eerste en tweede eindig, kry tuisveldvoordeel in die halfeindronde.
Ofskoon die Bulls se verwagte besluit tot ’n mate verstaanbaar is gegewe dat hulle in ’n onaanvegbare posisie bo-aan die puntelys is, het dit ongelukkigheid Doer Onder ontketen.
Die Waratahs, wat in hul laaste boekjaar ’n verlies van A$459 248 (sowat R3,1 miljoen) gely het, kan ’n inkomste van A$600 000 (sowat R4 miljoen) uit ’n halfeindstryd op hul tuisveld genereer.
Hulle meen die Bulls se skuif is “strydig met die gees van die spel”.
Hul uitvoerende hoof, Jim L’Estrange, het aan die Sydney Morning Herald gesê die situasie in Pretoria word gemonitor en dat die Waratahs sal optree indien die Bulls ’n merkbaar verswakte span aankondig.
“As ons dink daar is ’n rede om ons kommer uit te spreek, sal ons dit by Sanzar opper,” het L’Estrange gesê.
“Ek sal verstaan indien daar ’n paar spelers is wat met ligte beserings sukkel ná ’n lang seisoen, maar om 13 spelers te laat rus, is ’n bietjie erg.
“Ons monitor nou die situasie en wag vir die span om aangekondig te word. Ons hoop dis die beste span wat die Bulls in die veld kan stoot.
“Ek sal baie verbaas wees as die Bulls ’n risiko neem deur soveel spelers vir ’n belangrike wedstryd te laat rus. Ek is seker dis nie in die gees van rugby nie.”
L’Estrange se klagtes sal waarskynlik op dowe ore val, want ’n navraag deur Sport24vroeër vandeesweek het getoon dat daar nie ’n reël is wat die Bulls verhoed om hul tweede linie speelkans te gee nie.
Die Stormers sal ook gesonde agting hê vir enige span wat die Bulls kies, want die Super14-kampioen beskik oor puik diepte.
Die Bulls het ook besluit om die voormalige Stormers-held De Wet Barry vir Saterdag se stryd nader te trek.
Robbie Fleck, wat die Stormers se agterlyn afrig, het die Bulls se besluit om sy oud-sentermaat in te span as “slim” beskryf.
“Pagey (Barry) is ’n ou hand en een van die taaiste kalante met of teen wie ek al gespeel het,” het Fleck gesê.
“Daar is ’n bietjie geskiedenis en dit sal ’n persoonlike ding wees. Dis ’n slim skuif.”
Die Stormers kondig vandag hul span aan.
Joe Pietersen en Bryan Habana gaan waarskynlik na die beginspan terugkeer, met die Fidjiaanse vleuel Sireli Naqelevuki se kop wat kan rol vir sy blaps verlede week teen die Sharks.
– Sport24