Super-rugby dalk 'TV-proefbaba'
2011-12-01 07:00
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kimberley – Televisie-skeidsregters kan so gou as in 2012 se Super-reeks ’n beduidende rol vertolk in die uitwys van gemene spel op die rugbyveld.
Die Internasionale Rugbyraad (IRR) het pas bekend gemaak dat daar op ’n proefbasis in twee reekse – in onderskeidelik die Noordelike en Suidelike Halfrond – op groter skaal van die TV-skeidsregters gebruik gemaak sal word om vuilspel uit te wys.
Skeidsregters kan op húl aanbeveling geel- en rooikaarte uitdeel.
Die tegnologie sal eerste in die Heinekenbeker-reeks ingespan word, met Super-rugby wat straks daarop kan inkoop.
Die besluit van die IRR volg op ’n voorval in die Heinekenbeker-reeks vroeër vanjaar, toe die Leicester Tigers se Manu Tuilagi met ’n geelkaart weggekom het nadat hy die Northampton Saints se Chris Ashton met ’n liederlike vuishou bygekom het.
“Daar moet nog finaal besluit word in watter kompetisie in die Suidelike Halfrond die nuwe tegnologie gebruik gaan word, maar hopelik is dit in die Super-reeks,” het Suid-Afrika se skeidsregtersbaas, André Watson, Woensdag gesê.
“Dit is goed om tegnologie te gebruik waar dit van hulp kan wees en ek ondersteun dit 100%. Ek vrees egter dat die meeste mense nie sal besef dat dit steeds nie onfeilbaar gaan wees nie,”
Om die verloop van die spel so natuurlik moontlik te hou, stel die IRR een van twee opsies voor.
Óf die skeidsregter besluit wanneer hy ’n voorval vir verdere ontleding na die TV-skeidsregter wil verwys, óf die kaptein van elke span kry elk een verwysing per wedstryd.
“ ’n Kombinasie van die twee sal werk.
“ ’n Mens moet onthou dat die kaptein nie altyd alles sien wat op die veld gebeur nie en nie altyd die call sal kan maak om ’n voorval te verwys nie,” het Watson gesê.
- Die IRR probeer opnuut om vuilspel in rugby met wortel en tak uit te roei, maar daar sal steeds struikelblokke wees, meen Watson.
“Die gebruik van dié tegnologie gaan nie al die probleme oplos nie. As die betrokke skeidsregter byvoorbeeld nie die afbreekpunte optimaal beheer nie, gaan geen tegnologie van hulp wees nie.
“As ’n skeidsregter en die TV-skeidsregter ’n betrokke voorval mis, sal dit ongesiens verbygaan.
“Die betrokke spelers behoort egter agterna uitgewys te word.
“Die gebruik daarvan sal ook grootliks afhanklik wees van die betrokke uitsaaier en sy ‘kykweer’-beeld.
“TV-kameras kan byvoorbeeld net ’n vorentoe-aangee bepaal wanneer die kamera in lyn is met die speler.
“Dit beperk dit tot meestal die middellyn en ’n paar meter weerskante daarvan,” sê Watson.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg