Super Rugby by kookpunt
2011-06-06 10:21
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Vir die Stormers gaan dit nou oor ’n kort en makliker pad na glorie, en vir die Bulls bly die Super Rugbyreeks ’n oorlewingstryd.
Albei spanne se lot is ná die naweek se aksie steeds in hul eie hande en dít sal die intensiteit in Saterdag se Noord-Suid-derby op Nuweland met nóg ’n kerf of twee verhoog.
Boonop is die Sharks danksy Saterdag se sege van 23-18 oor die Cheetahs in Bloemfontein óók nog sterk in die prentjie om vir die uitkloprondes te kwalifiseer.
Die Stormers-span bly die gunsteling om die Suid-Afrikaanse groep te wen, maar danksy die Blues en Reds se onverwagse nederlae die naweek is dit nou ’n realistiese doelwit om as een van die toptwee-spanne op die algehele puntelys te eindig.
Slaag hulle daarin, kwalifiseer die Kapenaars outomaties vir die halfeindronde sonder dat hulle in ’n kwarteindstryd hoef te speel.
Sowel die Sharks as die Bulls het nog ’n kans om bo-aan die Suid-Afrikaanse puntelys te eindig. Die Sharks kan die druk op die Stormers hou deur die Lions Saterdag in Johannesburg te klop en hul laaste ligawedstryd is teen die Bulls in Pretoria.
Op hul beurt moet die Stormers die Cheetahs in hul laaste ligawedstryd in Bloemfontein aandurf – ’n wedstryd wat van kritieke belang sal wees indien die voorlopers op hul tuisveld teen die Bulls sou vasval.
Dat Suid-Afrikaanse spanne mekaar in die komende weke geen gunsies sal bewys nie, is gewis so. Niemand sal breër as die Stormers en hul ondersteuners glimlag as die Bulls se aanslag vir alle praktiese doeleindes op Nuweland sneuwel nie.
Albei spanne het ’n rekening om te vereffen. Die Bulls het die Stormers verlede jaar in die eindstryd in Soweto verslaan, terwyl die Kapenaars vroeër vanjaar die kampioenspan op sy tuisveld met 23-13 geklop het.
Die Bulls het hulle sedertdien puik reggeruk en hul laaste vyf wedstryde gewen. Nietemin sal ’n sege vir die Stormers onomwonde bewys lewer dat die magsbalans in Suid-Afrikaanse rugby nou in die Kaap lê.
’n Onverwagse sege vir die Brumbies oor die Reds, met die voorlopers wat selfs ’n bonuspunt in die doodsnikke ontsê is, het die hoop laat posvat dat die Stormers selfs nog eerste op die algehele puntelys kan eindig.
Vroeër Saterdag het Luke McAlister se swak korrelwerk – hy het slegs met twee uit sewe skoppe pale toe geslaag – die Blues ’n sege oor die Chiefs gekos en gesorg dat die Stormers in die tweede plek op die algehele puntelys bly.
Dit lyk of die Blues se aanslag begin wankel. Die Aucklanders het nou hul laaste drie wedsryde verloor en Saterdag se wedstryd teen die Crusaders in Timaru kan straks die wenner van die Nieu-Seelandse groep bepaal.
Die Crusaders is die gemaksone van wedstryde op hul gewone tuisveld kwyt weens die aardbewing vroeër vanjaar in Christchurch, maar niemand sal lus wees om van nou teen hulle te speel nie.
Ook die Waratahs staan nog relatief sterk in die sewende plek. Saterdag se wedstryd teen die Highlanders in Sydney kom op ’n uitklopstryd neer waarvoor die tuisspan sekerlik die gunsteling sal wees.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24