Strauss dwing agting af by Stormers-kaptein
2011-03-03 09:19
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Andries Strauss is miskien ’n Springbok met slegs een horing wat hy verlede jaar teen die Barbarians verdien het, maar die Stormers se nuwe kaptein en middelveld-ikoon, Jean de Villiers, het nét agting vir sy regstreekse teenstander in Saterdag se Super Rugby-wedstryd teen die Cheetahs op Nuweland.
“Andries het verlede jaar al gewys waartoe hy in staat is en die Sharks was teen die einde van die Curriebeker-reeks seker spyt dat hulle hom sou verloor. Die Cheetahs was gelukkig om hom te kry en hy speel ’n groot rol in spanverband daar,” het De Villiers Woensdag gesê.
De Villiers het vandeesweek die bykomende verantwoordelikheid van die kapteinskap omdat Schalk Burger ’n kniebesering opgedoen het. Die ervare Pieter Louw sal as nr.6-flank begin en Nick Koster skuif van die Westelike Provinsie se Vodacombeker-span op na die Stormers se plaasvervangersbank.
Juan de Jongh neem vandeesweek die beseerde Jaque Fourie se plek op buitesenter. Die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, het ook besluit om die ervare Peter Grant op losskakel in Gary van Aswegen se plek te kies. Van Aswegen is tussen die reserwes ná ’n buiging propvol belofte teen die Lions.
“Gary het goed gespeel en ek is tevrede met sy vertoning, maar hierdie toernooi gaan oor momentum. Peter is weer lekker ingeburger en het goed gevaar toe hy teen die Lions opgekom het,” het Coetzee die besluit verduidelik. “Ons moet momentum bou en daar is genoeg tyd om jong spelers kanse op die rug daarvan te gee.
” Dit is ook nie asof die Stormers sonder ’n paar jong manne speel nie. Rynhardt Elstadt en Danie Poolman het hul plekke op onderskeidelik slot en regtervleuel behou.
Daar is duidelik op bestuursvlak vir Elstadt hoë agting, want hy word bo De Kock Steenkamp en Adriaan Fondse gekies.Fourie se borsbeenbesering is vir die Stormers vandeesweek ’n groot slag. Hy het verlede week sy terugkeer ná ’n toonbesering gemaak en voor die wedstryd teen die Lions laas in verlede jaar se Curriebeker-reeks gespeel. Die Stormers kry dus waarskynlik in De Jongh ’n speler wat nou skerper behoort te wees.
De Jongh se regstreekse teenstander sal die uiters belowende Robert Ebersohn wees.“Robert is talentvol, maar die jong man aan my buitekant beslis ook. Dit gaan ’n interessante stryd wees,” het De Villiers oor daardie tweestryd gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24