Stormers wil Bulls voor slag
2010-05-14 10:11
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell
Kaapstad - Adriaan Fondse, Steven Sykes, Gerhard Mostert of Flip van der Merwe? Dís die groot vraag wat die volgende Springbok-afrigter in 2012 sal moet beantwoord wanneer hy oor ’n slot-opvolger vir Bakkies Botha besin.
Fondse kry Saterdag kans om sy stem teen Botha én Van der Merwe dik te maak wanneer die Stormers en die Bulls in ’n Super14-rugbywedstryd op Nuweland kragte meet.
Volgens Fondse, wat vroeër in sy loopbaan Botha se adjudant by die Blou Bulle was, het die Stormers “iets om te bewys” ná verlede week se nederlaag teen die Sharks.
“Ons het onsself in die steek gelaat. Dit gaan glad nie moeilik wees om ons te motiveer nie,” het hy gesê.
Die Stormers se voorspelers het verlede Saterdag die eerste keer vanjaar slae gekry, maar die grootste motivering is die tuishalfeindstryd wat op die Kapenaars wag indien hulle die Bulls klop.
Vir Fondse bly dit ’n grote, al speel die Bulls se sterre nie.
“Enige Noord-Suid-stryd is groot, ongeag watter span gestuur word. Daardie ouens gaan beslis hierheen kom om te wen en gaan inklim,” het hy gesê.
“Dit gaan van ons verg om goeie rugby te speel en nie net deur ons passies te gaan nie. Om enige Bulls-span te stuit, moet jy by die pak voorspelers begin.”
Dit bly vir die Stormers ’n bron van groot trots dat nog nie een van hulle vanjaar ’n geelkaart gekry het nie. Daarom sal dissipline weer ’n wagwoord in hierdié robuuste stryd wees.
Daarbenewens is speldissipline met betrekking tot die akkurate uitvoering van die wedstrydplan van die allergrootste belang. Die Stormers het in daardie opsig teen die Sharks teleurgestel.
“Die Sharks was baie fisiek, maar ons het eenvoudig te veel foute begaan. Ons moes byna ’n rekord aantal doodvatte uitvoer en dit eis eindelik ’n tol op jou liggaam. Die groot ding is om besit meer te behou.”
Fondse se slotmaat, Andries Bekker, kan vandeesweek in Victor Matfield se afwesigheid by die Bulls vir die Stormers van onskatbare waarde wees en die lynstane oorheers.
Bekker het volgens die statistieke wat Fika aan die Stormers verskaf, 62 van die 71 balle gewen wat op hom in die lynstane gegooi is. Dis ’n suksessyfer van 87%. Hy het ook 8 uit 34 keer (23%) dat hy meegeding het, sy teenstander se bal gewen.
Matfield se slaagsyfer in die lynstane is 55 uit 61 (90%) en hy het 8 uit 27 (30%) met welslae meegeding.
Dié statistieke wys dat Bekker goed op pad is om eindelik by Matfield op internasionale vlak oor te neem.
Die vraag is wie Botha se opvolger gaan wees.
“Adriaan moet nog sy fisieke intensiteit verbeter. Dis waar Bakkies fenomenaal is,” het die Stormers se voorspeler-afrigter, Matt Proudfoot, gesê.
“Wat ek baie van Adriaan hou, is sy ingesteldheid. Hy praat nie baie nie en kerm en kla nie. Hy doen net sy werk en dis wat jy van ’n voorspeler wil hê.
“Daar’s ’n paar ouens wat hul hande kan opsteek vir Bokke se nr.4-trui. Ek was verlede week beïndruk met Steven Sykes se fisieke intensiteit en Gerhard Mostert kan ook ’n faktor wees as hy fiks is.
“Ek sal graag wil sien dat Adriaan deur ’n ordentlike voorseisoen kom waar hy nie las van ’n besering het nie. Hy kan dan beslis ’n aanspraakmakers wees.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24