Stormers-troefkaart eers van ‘vyand’
2011-06-14 09:51
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - As daar een ding is waaroor die Cheetahs hulle moet bekommer voor Saterdag se kragmeting met die Stormers in die Vrystaat-stadion, is dit die Rassie Erasmus-faktor.
Die Westelike Provinsie se belegging in die voormalige Springbok-flank se rugbybrein deur die loop van 2007 – hy het amptelik op 1 Augustus daardie jaar begin werk – het terselfdertyd vir hulle ’n wenresep teen die Vrystaat en Cheetahs gekoop.
Sedert Erasmus se aanstelling as die WP se senior professionele afrigter – hy is sedertdien as direkteur van afrigting aangestel en sy werk is tot agter die skerms beperk – het die Kapenaars nog net twee kragmetings in die Curriebeker-reeks teen die Blikore verloor.
Die eerste was in September 2009 in Bloemfontein, toe die skeidsregter Marius Jonker ’n omstrede vertoning gelewer het waarin hy die WP swaar teenoor die Vrystaat gestraf en die wedstryd met ’n strafdrie in die tuisspan se guns beklink het.
Verlede jaar het die Vrystaat welverdiend met 29-24 op Nuweland gewen.
Andersins was daar 10 seges vir die WP of Stormers sedert hulle op 22 September 2007 onder Gary Gold as waarnemende afrigter van die Streeptruie die Vrystaat met 34-20 op Nuweland geklop het.
Erasmus was self aan die spits as breier vir die Stormers se seges oor die Cheetahs in Super-rugby in 2008 en 2009 – onderskeidelik met 34-22 en 28-22.
Allister Coetzee het die WP se Curriebeker-span in 2008 begin slyp en dit het al teen die Cheetahs ses seges in sewe wedstryde – insluitend ’n klinkende een van 31-7 in verlede jaar se halfeindstryd op Nuweland – opgelewer.
Coetzee se Stormers het die Cheetahs ook verlede seisoen en vanjaar onderskeidelik met 21-8 en 21-15 geklop.
Die koms van Coetzee is egter deel van die strukture waaraan die WP sedert 2007 begin werk en Erasmus ’n integrale rol gespeel het.
Coetzee is waarskynlik beter uitgeknip vir die druk van senior afrigting as Erasmus, maar laasgenoemde se strategiese brein bly ’n yslike bate wat in September en Oktober in die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland ook vir die Springbokke beskikbaar gaan wees.
Die stukture wat met groot moeite sedert 2007 in die WP gevestig is, het ook vir beter wisselwerking tussen die senior spanne gesorg, terwyl jong sterre soos Rynhardt Elstadt, Juan de Jongh en Danie Poolman daarop dui dat die pad van die Rugbyinstituut in Stellenbosch reguit boontoe loop.
In die seisoene voor Erasmus se koms na die Kaap, het die Vrystaat dikwels frustrasie in WP-geledere ontketen.
So byvoorbeeld was daar die Curriebeker-halfeindstryde in 2004 en 2005 – eersgenoemde met Erasmus in die dubbelrol van speler en strateeg, en laasgenoemde as afrigter. Die Cheetahs het in 2005 ook vir ’n opskudding gesorg deur die Curriebeker van die Blou Bulle te buit.
Dit sal natuurlik ’n oorvereenvoudiging en miskenning van etlike ander mense se bydraes wees om te sê dat Erasmus alleen vir enige welslae verantwoordelik is.
Statisties is die feit egter dat sedert hy hom in 2007 by die WP aangesluit het, die Streeptruie of Stormers 83% van al hul kragmetings in Curriebeker-rugby en Super-rugby teen die Vrystaat en Cheetahs gewen het.
In die voorafgaande jare sedert 2004 het die Vrystaat en Cheetahs 8 uit die 10 kragmetings (80%) gewen.
Hoe sy rol ook al gemeet moet word, is hy ongetwyfeld ’n troefkaart.
- Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24