Stormers straks met Bok-stut versterk
2011-11-09 07:04
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad – Die Springbok-stut Deon Carstens kan straks die Stormers se voorry in aanstaande jaar se Super Rugbyreeks versterk.
Carstens (32) speel vir Saracens in die Engelse Premierliga, maar Sport24 het die afgelope 24 uur by verskeie bronne verneem dat die Westelike Provinsie eersdaags Carstens se werkgewer sal wees.
’n Aankondiging in dié verband kan binnekort gedoen word.
Hoewel die Stormers se beraadspan baie vertroue in jong manne soos Steven Kitshoff en Frans Malherbe het, is daar, soos sake nou in die WP staan, waarskynlik nie genoeg diepte op stut om ’n Superreeks, wat tot in Augustus strek, te oorleef nie.
Die benarde situasie volg op ’n ernstige kniebesering aan JC Kritzinger, wat tot laat in aanstaande jaar se toernooi op die krukkelys kan wees. Hy was verlede week onder die mes.
CJ van der Linde is boonop aan die Goue Leeus vrygestel.
Hy het skaflik vir Suid-Afrika by die Wêreldbeker-toernooi vertoon, maar is vanjaar deur beserings geteister en die Stormers kon nie genoeg waarde ontgin om ’n groot kontrak te regverdig nie.
’n Groot probleem wat met die verlies van Kritzinger en Van der Linde geskep word, is dat daar nie ’n stut in die Stormers se geledere sal wees wat gemaklik aan albei kante van die skrum kan sak nie.
Carstens het sy Springbok-buiging in 2002 op die Bokke se toer teen Skotland as vaskopstut gemaak. Hy het ook op daardie toer teen Engeland in die nr. 3-trui begin.
Hy het ook ’n baie goeie verto- ningslys as loskopstut en het Sondag nog in Saracens se voorry langs Schalk Brits in die nr. 1-trui gesak.
Carstens se ervaring kan vir die Stormers van groot waarde wees. Hy is ’n gebore Kapenaar en sy mentorskap kan veral baie vir jongelinge soos Kitshoff en Malherbe beteken.
Die Stormers het natuurlik ook nog vir Brok Harris en Wicus Blaauw beskikbaar, maar Carstens kan belangrike toetservaring aan die Kapenaars se vaste vyf verleen.
Hy het in nege toetse vir die Bokke gespeel.
Die laaste daarvan was toe hy in 2009 vir agt minute ’n plaasvervanger vir John Smit in die derde toets teen die Britse en Ierse Leeus was.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg