Stormers soek ’n stut
2010-04-26 07:52
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell
Kaapstad - Dringend gesoek: ’n stut wat sy man in die Super14-rugbyreeks kan staan.
Moet verkieslik ’n loskop wees, maar kandidate wat aan albei kante van die skrum kan sak, sal voorkeur geniet. Rig aansoeke aan Allister Coetzee, afrigter.
As die Stormers ’n advertensie kon plaas om ’n noemenswaardige bekommernis oor die res van hul veldtog te besweer, is dít seker hoe dit sou lui.
Coetzee het Sondag ná die Stormers se terugkeer na die Moederstad skaars sy gesin gegroet voordat hy ’n oplossing vir die volgende potensiële probleem moes begin soek.
Met die loskopstut JC Kritzinger wat ’n kuitbesering in die naweek se nederlaag van 13-16 teen die Reds opgedoen het, is die Stormers in die aanloop tot die halfeindronde een besering weg van ’n voorry-krisis.
Coetzee sal Maandag duidelikheid oor die erns van Kritzinger se besering kan verskaf.
Brok Harris en JD Moller is darem nog staande, wat beteken hulle behoort Vrydagaand se belangrike wedstryd teen die Crusaders op Nuweland te begin.
Die veelsydige Argentynse voorryman Eusebio Guinazu verskaf op dié tydstip die reserwekrag.
“JC is my enigste bekommernis. Ek wil graag die groep bymekaar hou, maar sal nog ’n stut moet soek, met dié drie wat nog staan,” het Coetzee gesê.
“Ons raak nou baie dun daar en is besig om na opsies te kyk. Dis andersins ’n geval van kontinuïteit in hierdie laat stadium van die kompetisie.”
Die positiefste aspek vir die Stormers is dat hul heil, met nog drie wedstryde in die reeks oor, in hul eie hande is.
Die een ligapunt wat hulle teen die Reds gekry het en die Crusaders se onverwagse nederlaag teen die Western Force beteken dat die Kapenaars hulle in die tweede plek op die puntelys bevind.
Speel die Stormers volgens hul potensiaal, is daar geen rede waarom hulle nie nog in ’n halfeindstryd op Nuweland kan speel nie.
Nietemin kon hulle beswaarlik ’n moeiliker laaste fase gehad het.
Die Crusaders is in die derde plek op die puntelys en Vrydag se wedstryd kan ook vir hulle bepalend wees.
Daarna wag die Sharks wat hul laaste vyf Super14-wedstryde gewen het. Die grote voor die uitspeelwedstryde is teen die Bulls op Nuweland.
Todd Blackadder, die voormalige All Black-kaptein wat deesdae die Crusaders afrig, verwag ’n “desperate” stryd teen die Stormers.
“Ons het nog altyd goed op terugslae reageer en sien daarom meer na dié wedstryd uit. Die spelers se motivering sal vanself kom,” het Blackadder aan Nieu-Seeland se Sunday Star Times gesê.
“Dis ’n grote wat wag in die Kaap. Alles is op die spel en daar gaan ’n element van desperaatheid wees.
“Ek is bly ons speel al Vrydag, want dit beteken ons moet werklik fokus.”
Die Stormers het die voordeel dat hulle tuis speel.
Hulle het tot dusver boonop al vier hul Nieu-Seelandse teenstanders – die Highlanders, die Hurricanes, die Blues en die Chiefs – met gemak getroef.
- Sport24