Stormers se Super-kopseer op haker verlig
2011-02-23 07:00
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad – Deon Fourie is slaggereed om Saterdag hier op Nuweland teen die Lions haker te speel vir die Stormers in hul eerste Super Rugbystryd van die seisoen.
Dis welkome nuus vir die Kapenaars, wat hul eerstekeuse-haker, Tiaan Liebenberg, aan ’n kniebesering afgestaan het. Fourie het las van sy niere ondervind. Volgende in die ry staan Siyabonga Ntubeni, baie belowend, baie jonk en baie onervare.
“Ons is nog gemaklik met ons situasie, maar nog een of twee beserings kan ons sleg tref,” erken die Stormers se voorspeler-afrigter, Matthew Proudfoot.
“Tiaan se verlies het ons sleg getref. Nie net vanweë sy spel nie, maar ook omdat ons een van ons leiers verloor het.
“Maar Deon is ’n baie bevoegde plaasvervanger. Daai sewe, agt wedstryde ervaring wat hy einde verlede jaar in die Curriebeker-reeks opgedoen het, gaan nou handig te pas kom.
“Ek is ook nie bang om Siyabonga Ntubeni speelkans te gee nie.
“Hy’t nie veel senior ervaring nie, maar hy is al ’n stuk of 18 maande deel van ons opset en is baie belowend. Deon moes ook maar eers die ervaring opdoen.”
Proudfoot meen die nuwe formaat – ’n kruis tussen outydse krag-teen-krag-Curriebeker-rugby en die vergane Super14 – sal tyd vat om aan gewoond te raak.
“Die plaaslike derby-wedstryde is baie fisiek en intens.
“Waar jy nog kan hoop dat ’n 19-jarige van Invercargill ’n bietjie benoud kan raak op Nuweland, is ’n 19-jarige van Pretoria hierdie goed gewoond.
“Vir ons van die kus is daar nou ook drie wedstryde in die dun binnelandse lug. In die verlede was dit soms net een.”
Die breier is filosofies daaroor dat sy span ’n week later as die res afskop.
“Dis allermins ideaal, maar ons het dit geweet en so voorberei. Aan die een kant is dit ’n nadeel dat die Lions 80 minute in die reeks agter die blad het en ons glad niks.
“Maar daarteenoor kon ons ’n week lank agteroor sit en onemosioneel bestudeer hoe die reëltoepassings lyk en in watter slaggate ander spanne trap. Die spelers is nietemin keelvol van oefen en bars om net ’n slag op die veld te kom en te speel.”
Volgens Proudfoot was hy verras deur hoe streng die skeidsregters by die skrums en die afbreekpunt was.
“Hulle was strenger as wat ons verwag het, maar dit help nie om hieroor aan die stry te raak nie. Dis duidelik die standaard wat hulle verwag en dis die skeidsregters wat die beslissings maak.
“’n Geklaery sal jou nie veel help nie.”
Proudfoot weier om enigiets te lees in die Stormers se oorwinning van 15-0 oor Saterdag se teenstander einde Januarie.
“Daai was só vroeg, jy kan nie oordeel nie.
“Ek sou nie sê dit was net ’n oefening nie, maar dit was allermins so belangrik as Saterdag.”
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg