Stormers nog 'n week sonder Jean
2011-04-12 07:07
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad – Dis onwaarskynlik dat die Stormers se eerste nederlaag van die seisoen hul breier, Allister Coetzee, sal noop om grootskeepse veranderings aan sy span te maak vir Saterdag se Super Rugbywedstryd teen die Lions.
Jean de Villiers kon nie Maandag ’n fiksheidstoets slaag nie en sal nog ’n week op die krukkelys bly, terwyl Bryan Habana ’n ligte skouerbesering opgedoen het in Saterdag se nederlaag van 6-19 teen die Reds op Nuweland.
Coetzee glo egter nie Habana se besering sal hom daarvan weerhou om sy plek teen die Lions te neem nie. “As die naweek se nederlaag gevolg het op baie veranderings, is ek seker dat ons kritiek sou kry dat ons aan ’n wenkombinasie getorring het,” het Coetzee gesê.
“Ek glo ’n speler word eintlik beter as hy gereeld speel. Dis nie speel wat ’n speler uitput nie, maar eerder wat elke wedstryd voorafgaan.
“Ons het byna geen beserings in Saterdag se wedstryd opgedoen nie. Hoe langer jy jou kombinasies aan die gang kan hou, hoe beter.”
Coetzee sal dus hoofsaaklik op dieselfde troepe staatmaak, maar soek beter dissipline, uitvoering en ingesteldheid vir sy span om weer op die wenpad te kom voor hul tweede loslootjie.
Ofskoon die Reds takties beter as die Stormers gespeel het, het die Kapenaars ook hul eie ondergang bewerkstellig met Duane Vermeulen en Deon Fourie se geelkaarte.
Coetzee wil ook hê sy spelers moet vir wedstryde opdaag met die ingesteldheid dat hulle toetsrugby speel en niks as vanselfsprekend aanvaar nie.
“Hierdie is naby aan toetsrugby, want jy kom teen top-spelers te staan.
“Die Reds het die regte ingesteldheid en intensiteit gehad. Hulle het presies geweet wat hul plan is en dit aggressief afgedwing.”
Die Stormers het egter laas in 2001 in Superrugby teen ’n span verloor wat die Lions verteenwoordig het.
Toe was die Lions nog deel van die Cats – ’n gesamentlike span waarvan die Vrystaat ook deel was.
Tog het die Westelike Provinsie se laaste vyf besoeke aan Coca-Colapark sedert 2006 nederlae in die Curriebeker-reeks opgelewer.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg