Stormers mik na 10 uit 10
2011-02-26 10:25
In-diepte Verslae
Die Western Force was te sterk teen die Lions tydens hul Vodacom Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Kaapstad - Die laaste keer dat ’n span van Johannesburg ’n Superrugby-wedstryd in die Moederstad gewen het, het Japie Mulder en De Wet Barry mekaar nog in die middelveld aangegluur.
Toe het die Cats dié emosiebelaaide wedstryd én die vuisgeveg gewen. Die telling was 29-24 en Barry het dié Sondagmiddag met sy gekraakte wangbeen met moeite aan ’n hoenderboudjie gekou.
Dit was ’n dekade gelede en die Cats se naam en dié franchise se geografiese samestelling het sedertdien verander.
Daar is egter twee vername ooreenkomste met die span van die Lions wat vandag by Nuweland opdaag: Die spelers word deur ’n uitgeslape Kiwi gebrei en hulle glo hulle kan die Stormers klop. Hiervan moet die tuisspan deeglik kennis neem, want selfvertroue tel baie.
Al het die Lions verlede week hul eerste wedstryd – teen die Bulls in Johannesburg – verloor, het die tweede helfte min ruimte vir debat gelaat oor of die Goudstad weer ’n rugbyspan het om mee rekening te hou.
Tog kan dieselfde van die Stormers gesê word. Hulle het immers in 2010 nog die eindstryd gehaal. Die Lions het toe al hul ligawedstryde verloor.
Daar kan nie só baie binne ’n halwe seisoen verander dat die Lions vandag realisties as gunstelinge beskou kan word nie. Of kan daar?
Die Stormers is vanjaar nog ’n onbekende faktor in Super Rugby, want hulle het in die eerste ronde ’n loslootjie gehad. Daar sal dus vandag eers uitsluitsel oor ’n paar kwelvrae wees.
Gaan die Stormers reg wees vir die intensiteit teen ’n span wat al ’n kragmeting met die Bulls agter die rug het? Hoe gaan Gary van Aswegen (losskakel), Danie Poolman (vleuel) en Rynhardt Elstadt (slot) in hul buiging op dié vlak vaar?
Boonop is daar twee groentjies op die plaasvervangersbank – Frans Malherbe (stut) en Siyabonga Ntubeni (haker).
Die verantwoordelikheid rus dus swaar op die voorry bestaande uit CJ van der Linde, Deon Fourie en Brok Harris om in die skrums hul stemme van meet af aan dik te maak.
Ondanks die Lions se groot verbetering onder John Mitchell het hulle steeds ’n onervare kern in hul span wat in die Stormers se visier sal wees.
Die spanne is
Stormers: Conrad Jantjes, Danie Poolman, Jaque Fourie, Jean de Villiers, Bryan Habana, Gary van Aswegen, Ricky Januarie, Duane Vermeulen, Francois Louw, Schalk Burger (k), Andries Bekker, Rynhardt Elstadt, Brok Harris, Deon Fourie, CJ van der Linde.
PLAASVERVANGERS: Siyabonga Ntubeni, Frans Malherbe, De Kock Steenkamp, Pieter Louw, Dewaldt Duvenage, Peter Grant, Juan de Jongh.
Lions: Jaco Taute, Lionel Mapoe, Waylon Murray, Doppies la Grange, Michael Killian, Elton Jantjies, Jano Vermaak, Warren Whiteley, Josh Strauss, Derick Minnie, Franco van der Merwe (k), George Earle, Kevin Buys, Bandise Maku, JC Janse van Rensburg.
PLAASVERVANGERS: Martin Bezuidenhout, Patric Cilliers, Wikus van Heerden, Cobus Grobbelaar, Rory Kockott, Burton Francis, James Kamana.
Skeidsregter: Stuart Dickinson.
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg