Stormers kies JC vir Brisbane-stryd
2010-04-22 10:04
In-diepte Verslae
Die Western Force het die Lions tydens hul Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth geklop.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell
Kaapstad - JC Kritzinger se insluiting as loskopstut is die enigste verandering aan die Stormers se beginspan vir Vrydag se Super14-rugbywedstryd teen die Reds in die Suncorp-stadion in Brisbane.
“Die Reds gaan ons in elke aspek van die spel toets en op dié tydstip is JC ons meer atletiese loskopstut,” het die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, gesê.
“JD Moller het baie goed geskrum in die laaste twee wedstryde, maar JC bied meer oor die veld.”
Die Stormers het die Chiefs met 49-15 in Hamilton geklop en behalwe vir Kritzinger en Moller wat vandeesweek nommers ruil, is daar geen verandering aan die groep nie.
Die Stormers het besluit om die Fidjiaanse vleuel Sireli Naqelevuki op die regtervleuel te hou, eerder as om op Fabian Juries se nommer te druk. Naqelevuki het vroeër op toer teen Aussies gesukkel toe die Western Force die bal agter hom geskop het.
“Daar is in die laaste vier wedstryde 46 keer op die Reds geskop en hulle het 31 keer met die bal gehardloop,” het Coetzee gesê.
“Die Reds is die span wat die bal die minste terugskop. Hulle is baie op die teenaanval ingestel. Dis hoe hulle die Bulls se pak oor die veld rondbeweeg het.
Hulle vaar goed in die fisieke aspek en hul skakelpaar is vuurwarm. Will Genia en Quade Cooper is belangrike besluitnemers.”
Coetzee glo balbesit sal van sleutelbelang vir die Stormers wees.
“Ons moet suinig wees om besit af te staan. As jy na jou balbesit kyk en aanval, gaan jy minder moeg wees as wanneer jy deurentyd verdedig.”
Die laaste wedstryd op toer Doer Onder is nooit ’n maklike taak vir ’n Suid-Afrikaanse span nie, maar Coetzee sê die Stormers geniet hul tyd.
Intussen het die Reds ook een verandering gemaak aan die span wat die Bulls verlede week geklop het.
Adam Byrnes vervang die beseerde Van Humphries as slot.
“Dis die vyfde Suid-Afrikaanse span teen wie ons in soveel weke speel en elkeen van die vorige vier het bepaalde sterk punte gehad,” het die Reds se breier, Ewen McKenzie, op sy span se webtuiste gesê.
“Die Stormers kombineer elemente van al die sterk punte en dis vir ons soos ’n eindeksamen vir al die harde werk wat ons oor die laaste vier naweke gedoen het. Dit gaan moeilik wees, maar ons sien daarna uit.”
Die Stormers se span is:
Gio Aplon, Sireli Naqelevuki, Jaque Fourie, Juan de Jongh, Bryan Habana, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Duane Vermeulen, Francois Louw, Schalk Burger (k), Andries Bekker, Adriaan Fondse, Brok Harris, Tiaan Liebenberg, JC Kritzinger.
PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, JD Moller, Anton van Zyl, Pieter Louw, Ricky Januarie, Willem de Waal, Tim Whitehead.
- Sport24