Stormers hou kop omhoog
2010-05-31 07:19
In-diepte Verslae
Die Western Force het die Lions tydens hul Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth geklop.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell
Soweto. - “Die begin van goeie dinge.” Só het die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, sy oordeel gevel oor sy span se veldtog in vanjaar se Super14-rugbyreeks.
Die Stormers het nou wel Saterdag se eindstryd met 17-25 teen die Bulls in die Orlando-stadion verloor, maar met baie eer uit die stryd getree en dwarsdeur die toernooi hul ondersteuners trots gemaak.
“My groot boodskap is dat ons dalk nog nie ‘daar’ is nie, maar ons is baie naby. Dis die begin van goeie dinge en dis die gevoel wat ek wil hê na die Curriebeker-reeks moet oorspoel,” het Coetzee aan Sport24 gesê. “Dit was toe nie die sprokie wat ons wou hê nie, maar steeds ‘n opwindende en goeie seisoen.
“Die beste span in die kompetisie is slegs ’n kortkoppie voor ons wat betref ervaring en diepte.”
Coetzee het verskeie hoogtepunte uit die Stormers se veldtog uitgelig.
“Dit was ’n groot positiewe punt om die eerste eindstryd in die Stormers se geskiedenis te kan haal,” het hy gesê.
“Ons is as span in ’n hegte eenheid saamgesnoer en die aanwinste soos Jaque Fourie en Bryan Habana het baie goed in die spankultuur ingepas. Ons het ook ’n helpende hand met Schalk Burger as kaptein gehad.
“Die ontwikkeling van ons pak voorspelers was ook ’n groot pluspunt en ons het die balans tussen aanvallende spel en skoppe reggekry.”
Pat Kuhn, voorsitter van WP Rugby (Edms.) Bpk. se direksie, was in sy noppies met die Stormers se puik seisoen.
“Daar was geweldig baie positiewe dinge. Ons het nou wel die eindstryd verloor, maar dit was wonderlik om tot daar te vorder. Ons het jong spelers laat deurkom en dit wys dat ons iets reg doen,” het Kuhn gesê.
Die Stormers se Saterdag het egter van begin tot einde nie goed verloop nie. Hulle is vroegoggend om 05:32 onverwags uit die vere geskud toe die brandalarm in hul hotel by Montecasino weens ’n tegniese fout afgegaan het.
Gaste wat hul kamers ontruim het, is in die voorportaal meegedeel dat dit ’n vals alarm was. Coetzee en senior administrateurs het beklemtoon dat dit geen rol in die nederlaag gespeel het nie.
“Een van die ander gaste het by die ontbyttafel vir my gesê dit het vroeër in die week ook gebeur. Dit was ongemaklik, maar daar was duidelik nie vuil spel betrokke nie. Dit het beslis nie veroorsaak dat die Stormers die wedstryd verloor het nie,” het die visepresident van die WP-rugbyunie, mnr. Jurie Roux, gesê.
Die hotel se bestuur het skriftelik om verskoning gevra en die WP gaan die kwessie daar laat.
“Sulke dinge gebeur en die hotel se bestuur het jammer gesê. Ons was nie die enigste gaste daar nie. Die hotel was vol.
“Ons voel nie dit het die spelers negatief beïnvloed nie,” het Kuhn gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Nuus24