Stormer-breier erg omgekrap oor blaser
2010-05-31 09:01
In-diepte Verslae
Die Western Force het die Lions tydens hul Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth geklop.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Stephen Nell
Soweto - Die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, het Saterdag vergeefs probeer om rustyd met Craig Joubert oor sy beweerde oneweredige toepassing van die reëls by die afbreekpunte in die Super14-eindstryd te gaan praat.
Coetzee meen die Bulls het welverdiend as wenners uit die stryd getree, maar hy en sy kaptein, Schalk Burger, het albei ná die wedstryd hul ontevredenheid met Joubert se vertoning as skeidsregter verwoord.
Dis die eerste keer dat die Stormers vanjaar hul ontevredenheid oor ’n skeidsregter se vertoning uitspreek.
“Die strafskoptelling was baie hoog teen ons voor rustyd. Hy (Joubert) het die Bulls by die afbreekpunte afgerig (wanneer hulle die bal stadig gemaak het). Wanneer ons oortree het, is ons gestraf. Jy kan nie die een span afrig en die ander straf nie,” het Coetzee gesê.
Met “afrig” verwys Coetzee na die voorkomende waarskuwings wat skeidsregters dikwels aan spelers rig sodat hulle nie gestraf word vir oortredings nie.
Coetzee was ook omgekrap omdat Joubert volgens hom nie die daglig-reël toegepas het nie toe Francois Hougaard Gio Aplon grond toe gebring het nadat laasgenoemde die lyn gebreek het. “Hougaard het onmiddellik vir die bal gegaan. Ek wou dit onder Craig se aandag kry.”
Luidens die reël sou Hougaard Aplon onmiddellik moes los en op sy voete wees om vir die bal te kan meeding.
Coetzee het gesê Joubert kon hom nie te woord staan toe hy die kwessie rustyd onder sy aandag wou bring nie.
Joubert het nie gister op ’n boodskap van Sport24 gereageer nie.
Tog is hy ’n gerekende skeidsregter en sou dit belaglik wees om die Stormers se nederlaag voor sy deur te lê. Die Bulls se ervaring was deurslaggewend en hulle het baie beter onder druk vertoon as die Stormers.
“Ek vat niks weg van die Bulls se sege nie. Dit is net dat stadige besit vir ons niks beteken nie, want die verdedigingslyn is dan agtermekaar,” het Coetzee gesê.
“Die afbreekpunte is die een faset waar die wedstryd gewen of verloor word, veral vir die Stormers wat op vinnige besit op die aanval staatmaak.
“Met die manier waarop Craig wedstryde tot dusver gehanteer het, was ons onder die indruk dat die aanvallende span die voordeel van daardie vinnige bal sou kry.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Nuus24