Staatmaker terug vir Lions
2010-05-07 10:04
In-diepte Verslae
Die Western Force het die Lions tydens hul Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth geklop.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Pieter Jordaan
Johannesburg - Goeie nuus is vanjaar maar yl gesaai vir die Lions, maar een van dié Super14-rugbyspan se staatmakers sal ten minste Saterdag sy terugkeer teen die Blues maak.
Die slot Franco van der Merwe se rugbesering het herstel en hy is gister in die beginspan, wat ’n 12de agtereenvolgende loesing gaan probeer afweer, ingesluit.
Hy vervang Nico Luus. Gert Muller se terugkeer ten koste van Ross Geldenhuys is die enigste ander verandering en die Lions-afrigter, Dick Muir, het die versoeking weerstaan om die snoeiskêr in te lê ná die vrot vertoning teen die Western Force.
Nog ’n silwer randjie aan die massiewe Lions-onweerswolk is dat die loskopstut JC Janse van Rensburg (nek) ook teen die Blues sal kan speel.
Waar Muir vroeër in die seisoen weekliks baie aan sy span verander het, het dit sedert die terugkeer uit Australasië gelyk of hy gerustheid begin kry oor wie sy beste vyftiental is.
Beserings het die Lions-breier se kaarte natuurlik oor die laaste weke deurmekaar gekrap.
Die span se twee uitblinkers in die eerste weke van die reeks, Doppies la Grange (senter) en Todd Clever (losvoorspeler), se Super14-reekse is albei onlangs deur beserings kortgeknip.
Clever ondergaan vandeesweek ’n skoueroperasie, terwyl ’n enkeloperasie La Grange vir nog sowat ses weke buite aksie sal hou.
Die span is steeds segeloos en hy loop onder kritiek deur, ongeag wie in die beginspan gekies word.
Die bittereinder-kaptein, Cobus Grobbelaar, het kwalik nuwe woorde oor wanneer hy die media ná elke wedstryd te woord moet staan.
Grobbelaar het wel gister gesê dat hy en die span probeer om hulle af te sluit van buitefaktore soos mediakritiek.
Dit beteken vir seker nie dat die Lions onbewus is van hul vertoningslys nie, maar Muir glo die span het te midde van die druk die karakter gewys wat nodig was.
“Ons kan net dit beheer wat binne ons beheer is,” het hy gesê toe hy gevra is of die soort kritiek hulle onderkry.
“Wanneer sekere dinge gesê word, kan dit persoonlike verwoesting saai. Daarom is ek trots op die manier waarop die groep saamgestaan het.”
Die Lions-span is: Carlos Spencer, Michael Killian, Deon van Rensburg, Walter Venter, Tonderai Chavhanga, Herkie Kruger, Jano Vermaak, Derick Minnie, Wikus van Heerden, Cobus Grobbelaar (k), George Earle, Franco van der Merwe, Gert Muller, Charles Emslie, JC Janse van Rensburg.
PLAASVERVANGERS: Hannes Franklin, Heinke van der Merwe, Nico Luus, Justin Wheeler, Jacques Coetzee, Jaco Taute, Bernardo Botha.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24