Spelpeil sal Cheetahs plek besorg – Naka
2012-01-18 08:00
In-diepte Verslae
Die Western Force het die Lions tydens hul Super-rugbywedstryd by die NIB-stadion in Perth geklop.
Die haker van die Lions, Bandise Maku, het 'n ernstige skouerbesering opgedoen en sal 'n groot deel van die Super-rugbyreeks misloop.
Bloemfontein – Spelpeil en nie reputasies nie sal bepaal wie in die Cheetahs se eerste Super-rugbywedstryd van 2012 uitdraf.
Só het Naka Drotské, afrigter van die Cheetahs, gister gesê nadat hy sy eerste kaarte van die Super-reeks gewys het.
Drotské het ’n groep vir die sentrale streekspan se jaarlikse oefenkamp in Jeffreysbaai, wat volgende week plaasvind, bekend gemaak.
Hoewel dié groep uit sy voorste 35 spelers (beseer en fiks) bestaan, meen die breier die deur na sy span is “wawyd oop” en dat sy spelers vier opwarmwedstryde het om hulself te bewys.
Selfs die klomp Cheetahs wat vir eers vir die Shimlas in die Varsitybeker-reeks diens doen, sal volgens
Drotské vir sy span se eerste Super-stryd, op 25 Februarie teen die Lions, oorweeg word.
“Die plekke in ons beginspan vir die eerste Super-wedstryd is nog wawyd oop. Daar is nog vier opwarmwedstryde oor.
“Ons gaan suiwer ’n span volgens spelpeil kies en nie reputasies nie. Die ouens sal in die oefenstryde moet wys wat hulle kan doen.”
Die Cheetahs speel oefenwedstryde teen die Southern Kings, Lions, Stormers en Bulls.
Tog gee Drotské se Jeffreysbaai-groep ’n goeie aanduiding van wie ondersteuners op die veld kan verwag. Die Cheetahs sal later hul finale Super-groep bekend maak.
Die skrumskakel Tewis de Bruyn en slot Waltie Vermeulen (studieverpligtinge) is waarskynlik die bekendste name wat nie in die see-oefengroep is nie.
De Bruyn is in November deur die Cheetahs vrygestel om vir die Franse klubspan Lyon in die voorseisoen te speel. Hy sal hom weer op 3 Februarie aanmeld.
Die skrumskakels is Pieter van Zyl en Marnus Hugo.
* Die groep vir die oefenkamp is: Coenie Oosthuizen, Marcel van der Merwe, Adriaan Strauss, Ryno Barnes, WP Nel, Trevor Nyakane, Lourens Adriaanse, Francois Uys, Andries Ferreira, Izak van der Westhuizen, George Earl, Heinrich Brüssow, Johan Wessels, Juan Smith, Davon Raubenheimer, Justin Downey, Ashley Johnson, Philip van der Walt, Pieter van Zyl, Marnus Hugo, Johan Goosen, Sias Ebersohn, Rocco Jansen, Riaan Smit, Dusty Noble, Rayno Benjamin, Philip Burger, Andries Strauss, Philip Snyman, Robert Ebersohn, Barry Geel, Matthew Rosslee, Jean Stemmet, Hennie Daniller, Willie le Roux.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24